Wanneer jy die woord verslawing hoor, dink jy waarskynlik aan nadelige goed, soos drank, dwelms en gemorskos. Maar dit is ook moontlik om verslaaf te raak aan iets goeds, soos oefening.

Wat oefening betref, is daar waarskuwingstekens waarvoor jy moet uitkyk. Die voor-die hand liggendste is liggaamlike pyn. As jy al dae lank op jou tande kners elke keer dat jy op die trapmeul draf, probeer jou lyf vir jou iets sê. Vat ’n dag of twee af en beoordeel dan weer die situasie. As die pyn weggegaan het, is dit in die haak om geleidelik weer te begin oefen. As dit aanhou, is dit raadsaam om dokter toe te gaan. As jy aan iets anders as ’n verkoue ly, moet jy ophou gim tot dit heeltemal opgeklaar het. Gewone verkoue kan met ligte oefening afgeweer of verlig word, want dit versterk jou immuniteit. Maar enigiets anders verg rus en mediese raad.

Jy moet ook keer dat oefening jou persoonlike lewe oorneem.

Jy moet ook keer dat oefening jou persoonlike lewe oorneem. Kan jy nie onthou wanneer jy laas die gim oorgeslaan het om saam met vriende te kuier nie? Dis ’n probleem. Jy moet tyd inruim vir jou geliefdes en ander aktiwiteite wat jy geniet. As jy tallose dae agtermekaar in die gim gesweet het, is dit tyd om asem te skep.

Ten spyte van al die waarskuwings, is daar tye dat jy moet deurdruk – soos as jy effense spierpyn ervaar wat nie met gim verband hou nie. As jy ’n stywe nek het omdat jy in ’n vreemde posisie geslaap het, het jy dalk min lus vir die gim. Maar ’n strekklas, soos joga, kan wondere verrig.

As jy ’n emosionele kwaal het, moet jy ook probeer volhou met gim. Traagheid, buierigheid of ’n algemene gevoel van ontevredenheid kan baat vind by ’n inspuiting van die gelukshormoon endorfien, wat vrygestel word wanneer jy oefen. Bespreek ’n klas en teken dit in jou dagboek aan net soos jy met enige ander vergadering sou doen sodat jy ’n groter kans sal hê om te gaan.

Die geheim is om na jou lyf te luister en tyd opsy te sit om jouself te leer ken. Net jy kan onderskei tussen ’n ware rede om die gim oor te slaan en ’n blote gebrek aan motivering.

© Cover Media