Vir diegene wat nie sonder hul koppie boeretroos soggens aan die gang kan kom nie, is daar goeie nuus – nuwe navorsing het bewerings weerlê dat koffie jou hartkloppings gee. En boonop is bevind ’n kafeïen-hupstoot in die oggend kan goed vir kardiovaskulêre gesondheid wees. Skink dus voort!

[caption id="attachment_116182" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie: Pixabay Foto ter illustrasie: Pixabay[/caption]

Wetenskaplikes aan die Universiteit van Kalifornië in San Francisco het 1 388 lukraak gekose deelnemers bestudeer, diegene met gereelde ekstra hartkloppings uitgesluit en die res se koffie-, tee- en sjokolade-inname ontleed. Sowat 61 persent van hulle het meer as een kafeïenproduk daagliks ingeneem.

Lees ook: Koffie met 'n doodswens

Maar daar is geen verskil in die getal voortydige atriale kontraksies (hart wat te vinnig klop) of voortydige ventrikulêre kontraksies (waar hartklop oorgeslaan word) per uur vir alle vlakke van koffie-, tee- en sjokolade-inname gevind nie. En gereelde inname van dié produkte hou ook nie verband met ekstra hartkloppings nie.

“Kliniese aanbevelings teen die gereelde inname van kafeïenprodukte om versteurings van hartritme te verhoed, moet heroorweeg word omdat ons dalk onnodig die verbruik van produkte soos sjokolade, koffie en tee ontmoedig wat eintlik kardiovaskulêre voordele kan inhou,” sê dr. Gregory Marcus, wat die studie behartig het.

Lees ook: Vyf redes om koffie te drink

“Gegewe ons onlangse werk wat getoon het dat ekstra hartkloppings gevaarlik kan wees, is hierdie bevindings veral relevant.”

Die resultate is in die Amerikaanse Hartvereniging se vaktydskrif gepubliseer. Die hoofskrywer, Shalini Dixit, sê nog navorsing is nodig.

Lees ook: Wat verklap koffie oor jou?

“Dit was die eerste gemeenskapsgebaseerde navorsing om te kyk na die uitwerking van kafeïen op ekstra hartkloppings, aangesien studies mense met aritmieë bestudeer het.

Die vraag of akute inname van hierdie kafeïenprodukte ekstra hartkloppings beïnvloed, is iets wat nog ondersoek moet word.”

© Cover Media