Hoewel daar baie soorte moesies is wat geen probleme skep nie, kan hulle kankeragtig raak en mense met meer as 100 moesies op hul lyf is 10 keer meer geneig om kwaadaardige melanome te ontwikkel. ’n Span by die St. Thomas-hospitaal in Londen het die getal moesies op 3 500 vroue se liggaam ondersoek en so tot hierdie gevolgtrekking gekom. Hulle hoop dit sal help om meer soorte velkanker vroegtydig op te spoor.

Tydens die navorsing het verpleegsters 17 areas op die liggaam ondersoek in die hoop om te vas te stel of baie merke op een plek beteken iemand het besonder baie moesies. Hulle het bevind die vroue op wie se regterarm besonder baie moesies was, geneig was om die donker vlekke oor hul hele liggaam te hê. In ’n tweede studie is mans ondersoek en is vasgestel dat, as albei geslagte meer as 10 moesies op hul regterarm gehad het, hulle 100 of meer oor hul hele lyf het. In die geval van vroue was die bene ook belangrik, terwyl daar ’n verband was tussen die manne se rug en die algehele moesietelling.

Enige moesie waarvan die kleur of vorm verander, kan ’n rede tot kommer wees

Die span het op die ou end besluit die arm is die beste aanduiding aangesien dokters dit makliker kon ondersoek. Trouens, albei arms werk goed, maar die span wou ’n duidelike boodskap oordra, dus het hulle gereken dit sou mense se aandag trek as hulle op die regterarm konsentreer.

Die bevinding is in die British Journal of Dermatology gepubliseer in die hoop dat dit mense sal aanmoedig om hul vel meer gereeld te ondersoek. Enige moesie waarvan die kleur of vorm verander, kan ’n rede tot kommer wees. As jy dus enige verandering opmerk, behoort jy ’n afspraak te maak met jou dokter.

Dr. Claire Knight van die liefdadigheidsorganisasie Cancer Research UK het die navorsing verwelkom, maar daarop gewys dat ander belangrike faktore by velkanker ter sprake kan wees. “Ander risikofaktore vir melanoom sluit in rooi of ligte hare, ’n ligte vel en oë of as jy al ernstige sonbrand opgedoen het,“ het sy aan MailOnline verduidelik.

© Cover Media