’n Paar dae weg van die kassie kan vetsug help voorkom, volgens Brittanje se Nasionale Instituut vir Uitnemendheid in Gesondheid en Sorg.

Dié raad word aanbeveel om die oorgewigprobleem te help oplos. Die onafhanklike organisasie glo die lang ure wat mense voor die TV deurbring, maak dat hulle meer peusel. Om etes voor die televisie te eet kan kykers se aandag aflei sodat hulle meer konsentreer op wat op die kassie gebeur as op hul kos; dan voel hulle onversadig nadat hulle klaar geëet het.

Kenners beveel aan dat smulpape laevetmelk en -jogurt eet, elke dag ontbyt eet – verkieslik volgraan-ontbytkos of roosterbrood – en dat hulle so veel moontlik vleis uitsny sodat hulle deur die dag meer versadig kan voel.

“Die vetsugkoers het die afgelope 10 jaar bykans verdubbel en dis steeds ’n groot bekommernis,” sê prof. Mike Kelly, direkteur van die instituut se sentrum vir openbare gesondheid.

“Dis belangrik dat almal gesonder eet en lewe; dit geld nie net vir oorgewig of vetsugtige mense nie.

“Ons almal weet ons moet trap klim pleks van hysbak ry, minder TV kyk, gesonder eet en minder drink. Maar dit kan moeilik wees om te weet watter veranderinge die nuttigste is.”

In ’n Amerikaanse studie is gekyk na hoeveel tyd mense voor die TV deurbring, en sommige skole daar moedig nou mense aan om Dinsdae of selfs heelweek die TV te vermy en liewer te oefen.

Tam Fry van Brittanje se Nasionale Vetsugforum stem saam met dié raad, maar dink daar moet meer gedoen word om die boodskap tuis te bring.

“Dis goed en wel om raad te gee, maar om miljoene mense sover te kry om dit te volg, is iets heeltemal anders,” sê sy. “Ons moet vanaf ’n jong ouderdom oor ’n gesonde leefstyl opgevoed word.”

© Cover Media