Ná 'n hartaanval moet jy katvoet loop wat strawwe oefening betref.

Die kenners reken egter dat, hoewel jy die gimnasium ’n tyd lank moet vermy terwyl jy herstel, daar geen rede is waarom jy nie ’n bietjie kan kafoefel nie.

Duitse navorsers aan die universiteit van Ulm het bevind seks hou nie ’n groter risiko in vir ’n volgende hartaanval as trappe klim of vir ’n vinnige wandeling gaan nie.

Hulle reken trouens dat enige fisieke aktiwiteit veilig is ná ’n hartaanval en hulle moedig mense aan om daaraan deel te neem.

Die span het die gesondheid en verdere hartprobleme van 536 mense, tussen 36 en 70 jaar oud, wat ’n hartaanval oorleef het, nagegaan. Enige moontlike korrelasie tussen seks en die oorspronklike hartaanval is ook aangeteken.

Net 0,7 persent het ’n uur voor die hartaanval seks gehad en ongeveer 80 persent het vir ten minste 24 uur geen seks gehad nie. In die 10 jaar wat die groep nagevors is, het daar wel 100 hartaanvalle, beroertes en ander hartprobleme voorgekom, maar daar is geen skakel gevind tussen die voorvalle en seksuele aktiwiteit nie.

'Dit lyk baie onwaarskynlik dat seksuele aktiwiteit ’n relevante afsetter is vir hartaanvalle'

“Gegrond op ons data lyk dit baie onwaarskynlik dat seksuele aktiwiteit ’n relevante afsetter is vir hartaanvalle,” het Dietrich Rothenbacher, die skrywer van die studiestuk, in die Tydskrif van die Amerikaanse Kardiologie-kollege geskryf.

“Minder as die helfte van die mans en minder as ’n derde van die vroue kry ná ’n hartaanval inligting by hul dokters aangaande seksuele aktiwiteit.”

Sekere soorte medisyne wat ná ’n hartaanval geneem word, kan egter impotensie veroorsaak.

Die Britse Hartstigting onderskryf hierdie jongste navorsing en raai pasiënte aan om so gou as wat hulle goed genoeg voel, weer seksueel aktief te raak. Dit is gewoonlik ongeveer vier tot ses weke ná die hartaanval.

© Cover Media