Mense wat aan chroniese toestande soos asma, diabetes en hartkwale ly, moet twee keer dink oor watter griep- en verkouemedikasie hulle kies. “Wanneer sekere griep- en verkouemedikasie saam met chroniese medikasie gebruik word, kan dit ernstige komplikasies veroorsaak,” sê Mariska Fouche, die woordvoerder van die farmaseutiese maatskappy Pharma Dynamics.

“Die meeste Suid-Afrikaners verkies deesdae om self ’n verkoue en griep te dokter, maar ontstellend min van ons ken die aktiewe bestanddele in die farmaseutiese middels vir hoes, verkoue of griep, of weet wat die invloed daarvan is op chroniese medikasie.

“Pseudo-efedrien en fenielefrien is stimulante en moet vermy word as jy ly aan diabetes of hartsiektes, probleme het met jou skildklier en sukkel met gloukoom,” sê Mariska. “Hierdie produkte verander die werking van bloeddrukmedikasie. Dit kan oneweredige hartklop veroorsaak en jou bloeddruk verhoog, wat baie gevaarlik kan wees as jy aan hierdie toestande ly.

“Byna drie uit 10 volwassenes in Suid-Afrika – 6,3 miljoen mense – het hoë bloeddruk. As hulle die verkeerde griep- en verkouemedisyne neem, is dit ’n potensieel gevaarlike mengeldrankie. Lees die etiket van die nie-voorskrifmedisyne deeglik of praat met ’n apteker voor jy dit koop,” beveel sy aan.

As jou maag sensitief is, kies griepmedisyne wat nie aspirien bevat nie. “Aspirien is bekend daarvoor dat dit die maagvoering irriteer. Die meeste verkoue- en griepmedisyne bevat ’n algemene pynverligter vir die pyn en ongemak wat met die toestand verband hou. Kies dus eerder ’n middel wat parasetamol bevat.”

Mense met diabetes moet verkoue- en griepmedisyne kies wat alkohol- en suikervry is en kunsmatige versoeters bevat, soos aspartame en sorbitol. Aspirien, ibuprofen en naproxen moet ook vermy word, en mense met diabetes word aangeraai om altyd hul bloedglukosevlakke deeglik te monitor wanneer hulle enige nie-voorskrifmedisyne neem.

Bron: Pharma Dynamics