’n Opname onder 2 600 lede van Weight Watchers toon mense wat hulself deur die week ongesonde kosse veroorloof, het ’n groter kans om hul doelwit-gewig te bereik as dié wat dit heeltemal uitsny.

Die helfte van hulle het ’n tiende van hul liggaamsgewig verloor, van wie driekwart peuselkos by hul dieet ingesluit het. Die ander helfte het nie aan ongesonde kos weggelê nie en ’n gewigstoename van gemiddeld sowat 6 kg gerapporteer.

In die geheel het ’n derde van die deelnemers peuselgoed by hul daaglikse eetprogram ingesluit.

Vier-en-negentig persent van die deelnemers het gemeen hulle sal ’n groter kans hê om gewig te verloor as hulle hulself ’n paar happies veroorloof wat nie heeltemal gesond is nie en gevind dit help hulle op hul einddoelwit fokus. ’n Vyfde het ook gesê hulle het meer gewig verloor in die weke waarin hulle toegegee het.

Zoe Griffiths van Weight Watchers in Brittanje verduidelik die dieetreus se benadering tot verslanking en hoe die resultate hul etos weerspieël.

“Die algemene wanbegrip is dat jy jouself moet ontsê van die kos waarvan jy hou om suksesvol gewig te verloor.

“Maar sodra jy jouself begin wysmaak jy mag nie daardie glas wyn saans drink of ’n nagereg ná aandete eet nie, begin jy dit nog meer begeer,” sê sy.

“Dit verklaar waarom so baie respondente net ’n rukkie op ’n ‘ontemingsdieet’ uithou, want dis onvolhoubaar.

“By Weight Watchers weet ons die lewe is net nie pret nie as jy jou ontneem van die kosse waarvan jy hou. Dit is trouens veel doeltreffender om jou te veroorloof om toe te gee as deel van ’n gesonde dieet en leefstyl.”

Die mense wat ’n streng dieet gevolg het, kon net langer as ’n maand uithou, terwyl diegene wat hulself meer vryheid gegun het, langer met hul dieet kon volhou.

© Cover Media