Party simptome ignoreer jy dalk makliker as ander, maar dit beteken nie dit sal net oornag verdwyn nie. Daar is dalk ’n kiem in die lug of dalk sukkel jy met hooikoors wanneer die stuifmeeltelling hoog is, maar wat as dit soos iets heeltemal onbekends voel?

Hier is ’n paar gesondheidsaanwysers wat jy nooit moet ignoreer nie:

1. Skielike intense hoofpyn

Skerp pyne in jou kop kan ’n teken van ’n aneurisme wees. Dit beteken ’n bloedvat in die brein het geskeur en dit is iets wat onmiddellike mediese aandag verg. Dit kan ook lei tot ander simptome soos ’n stywe nek, dowwe of dubbele visie en naarheid. Daar is in studies bevind dit word deur dinge soos rook, alkohol of selfs ’n genetiese toestand veroorsaak.

2. Tandpyn

Sensitiewe tande is veral gevoelig wanneer jy ’n bakkie roomys of ’n koue drankie wil geniet, met skerp pyne wat tot in jou wortel trek. As jy meer ongemak as gewoonlik verduur, moet jy ’n tandarts raadpleeg om te kyk of jy ’n gaatjie het, want ’n verrottende tand kan ’n senuwee beskadig. Hoe langer jy wag, hoe erger sal die pyn word, en die bakterieë wat die tandpyn veroorsaak, kan versprei en nog dele aansteek.

3. Borspyn

Slegte spysvertering en sooibrand is algemene sensasies ná ’n gekruide ete of as jy te veel gedrink het, maar as dit ernstiger voel, soos as die druk op jou bors swaarder as gewoonlik voel en jy sukkel om asem te haal, kan dit ’n hartaanval wees. Mense aanvaar jy moet oud en onfiks wees om ’n hartaanval te kry, maar die waarheid is dat ’n hartaanval op enige ouderdom kan gebeur. Moenie tyd verspeel nie – klop onmiddellik aan om hulp.

4. Ekstra lyfhare op vroue

Arm- en beenhare is normaal onder vroue, maar as dit op ander liggaamsdele soos die gesig, borskas of borste begin groei, kan dit ’n aanduiding van polisistiese eierstoksindroom wees. Dis ’n algemene toestand wat die eierstokke se werking beïnvloed en dit kan ook deur siste en onreëlmatige ovulasie gekenmerk word. Nog ’n teken is as jou maandstonde vertraag is. Die siekte kan lei tot onvrugbaarheid; moet dus nie enige tyd verspeel nie.