Dit is ’n algemene praktyk om kinders te vra om al hul kos op te eet – ouers wil tog hê kinders moet genoeg voeding inkry. Veral groente is belangrik sodat die kleingoed mooi kan groei en sterk word.

Nou word aangevoer kinders wat heeltyd al hul kos moet opeet, kan later in hul lewe te doen kry met gewigsprobleme soos kindervetsug.

Navorsers van die Universiteit van Nebraska het ’n peiling gedoen onder 18 vroue wat by verskillende skole kinders tussen twee en vyf jaar oud oppas. Vorige navorsing het getoon kinders wat aan vaste etenstye blootgestel word, hou op om na hul liggaam se hongerpyne te luister en hou selfs nadat hulle versadig is aan met eet.

In die nuwer studie wou navorsers uitvind hoe dagsorgwerkers maaltye benader. Die 18 deelnemers het sowat 12 jaar ervaring en hou oor gemiddeld 42 kinders toesig. Almal het naskoolse opleiding ontvang en agt het ’n graad behaal.

Daar is bevind sommige van die toetsgroeplede pas beheerde voedingsmaatreëls toe omdat hulle dit veral met kieskeurige eters doeltreffend vind. Hulle het ook gesê eetgoed soos lekkers kan ’n nuttige beloning wees wanneer die kinders byvoorbeeld leer om self toilet toe te gaan.

Party van dié wat nie die kinders vra om al hul kos op te eet nie, het gesê hulle moedig kinders in hul sorg eerder aan om alles op hul bord te proe.

Van die vroue pas glad nie beheerde voeding toe nie omdat hulle dit ondoeltreffend vind; hulle wil hê die kinders moet self reguleer hoeveel hulle inneem. ’n Persentasie van hulle was bewus van navorsing wat eetgewoontes met kindervetsug verbind.

Dipti Dev, hoofskrywer van die navorsingsartikel, het gesê: “In hierdie studie is ook bevind verskaffers van kindersorg hou by beheerde voedingspraktyke omdat hulle bang is die ouers reageer negatief wanneer hulle uitvind hul kind het nie geëet nie.

“Die verskaffers behoort beheerde voedingspraktyke soos kos as beloning en lof vir ’n leë bord te vermy. Kinders moet aangemoedig word om te eet; nie gedruk nie.”

Die resultate is in die Tydskrif van die Akademie van Voeding en Dieetkunde gepubliseer.

© Cover Media