Wat fiksheid betref, volg elkeen sy eie reëls, maar nie almal van die reëls verdien werklike steun nie.

Misleidende idees, soos byvoorbeeld dat om kragoefeninge oor te slaan terwille van kardiovaskulêre oefeninge jou gaan help om gewig te verloor, is eenvoudig net verkeerd.

Ons het diep gedelf in ’n klompie onwaarhede rakende die gimnasium, en het uitgevind wat die standpunt is rakende oefening.

Slaan kragoefeninge oor, fokus op kardiovaskulêre oefeninge en verloor gewig

Daar steek geen waarheid in hierdie mite nie.

“Kragoefeninge bou skraal spiermassa, wat jou metabolisme versnel en vet verminder. Hoe meer spiere jy dus bou, hoe meer kilojoules verbrand jy elke dag," het Elizabeth Hendrix Burwell, vermaarde instruktrise, aan shape.com verduidelik.

Sommige kragoefeninge sal ook veroorsaak dat jy meer kilojoules verbrand as wanneer jy hardloop; byvoorbeeld, met 'n Kettlebell-roetine kan jy tot 85 kilojoules per minuut verbrand.

Moet jy begin met oefeninge met gewigte of die kardiovaskulêre tipe?

Mense verskil van opinie wanneer dit kom by watter soort oefeninge die eerste gedoen moet word: gewigte of kardiovaskulêr, maar die instruktrise Lindsay Vastola het ’n antwoord gereed.

“As jy die trapmeul bestorm vir ’n intense kardiovaskulêre sessie en dan van plan is om die gewigte daarna aan te pak, gaan jy bitter min in jou tenk oorhou om weerstandsoefeninge te takel,” het sy aan Shape gesê. Doen liewer die verskillende soorte oefeninge op verskillende dae, want dan kan jy jou bes met elkeen doen.

Kardiovaskulêre oefeninge op ’n leë maag verbrand meer vet

Nee, nee, neee! Voedsel is brandstof, en om af te sit gimnasium toe sonder 'n krieseltjie kos in jou maag, is soos om met ’n motor sonder brandstof te ry.

Wel, nie presies so nie, maar jy verstaan die punt.

Daar word geglo dat vastende kardiovaskulêre oefeninge meer vet verbrand, maar dit verbrand ook spiermassa. Die meeste fiksheidsdeskundiges is dit eens dat jy nie op 'n leë maag behoort te oefen nie.

Bly op die vetverbrandingssone om gewig te verloor

Die vetverbrandingssone op die trapmeul sal jou teen ongeveer 65 persent laat oefen, wat as lae-intensiteit-oefeninge beskou word.

Lae-intensiteit-fiksheidsoefeninge verbrand wel meer vet, maar dit bepaal nie die optimale getal kilojoules wat jy afskud nie.

“Hoe hoër die intensiteit van jou oefening is, hoe meer kilojoules sal jy uieindelik verloor,” het Marta Montenegro, professor in oefening en sport by die Florida- Internasionale Universiteit, gesê.

"Dié verbrandingsproses duur tot 24 uur ná jou laaste herhaling of tree, en studies dui daarop dat dit jou maagvet gouer sal laat krimp.”

© Cover Media