Sy eerste miniberoerte was verlede jaar dié tyd. Hy het Maandag getwiet: “Amper presies ’n jaar ná die vorige een het ek weer ’n miniberoerte gekry. Hopelik sal dit die laaste een wees. Mismoedig.”

Verlede jaar het Frankie besef iets skort toe hy die sig in sy een oog verloor terwyl hy op sy motorfiets gery het. “Ek kon nie woorde vorm nie,” het hy op die TV-program Good Morning America vertel. “Ek het gedink ek sê dit. My verloofde het na my gekyk asof ek in ’n vreemde taal praat.”

Huisgenoot het onlangs geskryf oor die 7de Laan-aktrise Salamina Mosese wat op 30 ’n miniberoerte gehad het. Haar regterhand het lam geword terwyl sy op pad werk toe was en langs haar sy geval, maar sy het net eenvoudig die hand met die linkerhand terug op die stuurwiel gesit en aanhou ry. Toe sy teen middagete nie ’n vurk kon optel nie, het sy besef daar is groot fout.

Wat is ’n miniberoerte?

Dit is wanneer ’n gedeelte van die brein ’n kort tydperk nie suurstofryke bloed kry nie. Daar is geen blywende skade nie en die simptome duur minder as 24 uur. Dit is egter gewoonlik ’n waarskuwing en as so iemand nie behandel word nie, volg ’n beroerte gewoonlik binne ’n week.

Beroerte is nie net ’n oumenssiekte nie. Daar word gereken dat beroertes ses uit 100 000 Suid-Afrikaanse kinders oorkom, het Ayesha Seedat, van die Hart-en-beroerte-stigting in Kaapstad, aan Huisgenoot gesê.

Wat is die voortekens?

Duiseligheid en naarheid, dubbelvisie, kwaai hoofpyn, swakheid van dele van jou lyf of jou hele lyf, as jy skielik nie weet waar jy is nie en spraakprobleme.

Alet van Zyl

Ekstra bronne: Dailymail.co.uk, Beeld.com