Uitsny van vette gaan jou help om gewig te verloor, né? Dink weer, sê onlangse navorsing.

Die meeste van ons het al die een of ander soort dieet gevolg, of dit nou die hele kaboedel was soos die Atkins-plan, of om net jou liggaam te reinig deur eenvoudig minder vette in te neem.

Die navorsers by Harvard het data van meer as 68,000 volwassenees ontleed en tot hierdie gevolgtrekking gekom. Volgens hulle moet gesondheidsdwerkers liewer dieetplanne, gebaseer op porsiegroottes en onverwerkte voedsel, aanbeveel, in plaas van om te konsentreer op vet en koolhidrate.

“Daar is geen goeie bewys dat laevetdiëte aanbeveel behoort te word nie,” het dr Deirdre Tobias, die hoofnavorser, gesê. “Ten spyte van die omvattende dogma dat jy vet moet verminder ten einde gewig af te skud, steun wetenskaplike bewyse nie laevetdiëte op die lange duur bo ander dieetkundige ingrepe vir gewigsverlies nie."

“Daar is geen goeie bewys dat laevetdiëte aanbeveel behoort te word nie...”

Dit kaats weer eens twyfel op Brittanje se Nasionale Gesondheidsdiens (NHS) se riglyne wat mense waarsku om botter, volvetmelk en ander hoëvet-kossoorte te vermy. Die advies is 32 jaar gelede vir die eerste keer deur die Britse gesondheidsorganisasie versprei, maar onlangse navorsing verwerp die idee dat vet nadelig is.

Trouens, daar is bevind dat die Mediterreense diëte, wat groot hoeveelhede vetryke voedsel soos olyfolie, vis en neute bevat, veral die gesondheid van die hart ‘n hupstoot kan gee.

Indien die jongste navorsing jou laat twyfel oor hoe gesond jou eetplan is, kan ’n ander onlangse studie dalk die antwoord wees om uiteindelik skraler te word.

Navorsers van die Brigham Young-universiteit in Amerika het bevind dat om happies te tel meer effektief is as om kilojoules te tel as jy wil gewig verloor.

Dr Josh West het die studie gelei en daar is gevind dat mense wat in ’n tydperk van vier weke hul happe getel het, ongeveer twee kilogram afgeskud het. Dit het gebeur omdat deelnemers die getal happe wat hulle elke dag geneem het, getel het en dan seker gemaak het dat hulle die volgende maand 20 tot 30 minder happe geneem het.

“Hierdie studie bevestig slegs dit wat ons reeds weet, naamlik dat die inname van minder voedsel ’n verskil maak,” het dr West gesê. “Ons preek nie dat mense moet hongerly nie, ons wil net hê mense moet minder eet as wat tans die geval is.”

© Cover Media