Wetenskaplikes van die Universiteit van Boston se mediese fakulteit het mediese data van sowat 1 600 mense oor 20 jaar ontleed.

Elke deelnemer het in die laat 1970’s en ’80’s, toe hulle tussen 31 en 49 jaar oud was, ’n fiksheidstoets op ’n trapmeul onderneem.

Die vrywilligers het op die masjien gehardloop tot hul hartklop ’n sekere spoed bereik het. Dit het vir die fikses meer tyd gekos om dit te bereik as vir dié wat min oefening gekry het.

Lees ook: Hoe ’n jong ma wat ‘te vet was om te loop’ 45 kg afgeskud het

Twee dekades later, tussen 1998 en 2001, het die deelnemers neurologiese toetse en MRI-breinskanderings ondergaan waarin gevind is dat ’n groot moontlikheid by dié met laer fiksheidsvlakke bestaan het dat hul brein ná 20 jaar meer as normaal gekrimp het.

Die totale breinvolume het jaarliks gemiddeld met sowat 0,2 persent gekrimp, terwyl dié wat in hul 30’s en 40’s minder fiks was, se brein vinniger gekrimp het.

Die rede hiervoor is na bewering dat daar minder stremming op die brein is aangesien fiksheid bloeddruk verlaag.

Die vinniger verkleining van die brein kan lei tot vroeë kognitiewe agteruitgang, demensie en voortydige sterfte, en die deskundiges glo dat ’n sittende leefstyl die verouderingsproses van die mens verhaas.

Lees ook: Jy dink jy is allergies vir hardloop? Dis dalk regtig die geval

Die brein krimp natuurlikerwys soos jy ouer word, maar hierdie ontdekking suggereer dat vlakke van oefening die spoed beheer waarteen dit gebeur.

“In ons studie het ons ’n regstreekse verband gevind tussen lae fiksheid en die volume van die brein dekades later, en dit dui versnelde veroudering van die brein aan,” het dr. Nicole Spartano, die skrywer van die studiestuk, gesê oor die bevindings, wat in die tydskrif Neurology gepubliseer is.

“Hoewel dit nog nie op groot skaal bestudeer is nie, gee hierdie resultate te kenne dat fiksheid in die middeljare veral belangrik kan wees vir die miljoene mense in die wêreld wat reeds tekens van hartsiekte toon.”

© Cover Media

Ander stories op huisgenoot.com:

Kyk: Gys de Villiers ontsenu in nuwe rillerprent

Regstreeks: Kyk hoe hou Lianie May haar lyf sjef saam met kombuis-ghoeroe

Kyk: Suzelle se Valentynsplanne loop liederlik skeef!

Local is lekker, bewys SA sjef wat in Frankryk Michelin-ster kry