.

Meer as 1 100 vroue is betrek by ’n opname deur die liefdadigheidsorganisasie Breast Cancer Care en hoewel 96 persent van hulle geweet het ’n knop is ’n aanduiding van die siekte, kon baie van hulle nie die ander simptome identifiseer nie. ’n Hele 39 persent het nie geweet rooiheid of ’n uitslag is dalk ’n teken dat iets nie pluis is nie, en 28 persent het nie geweet ’n ingeduikte tepel is ’n moontlike aanduiding nie. Daar is ook bevind ’n derde van die vroue wat deelgeneem het, ondersoek nie hul borste gereeld het nie, en een vyfde van dié wat nie hulself ondersoek het nie, het erken dat hulle nie weet hoe om dit behoorlik te doen nie.

"Dit behoort deel van ’n vrou se roetine te word"

"Ons weet vroeë opsporing kan lei tot doeltreffender behandeling,” het Samia al Qadhi, uitvoerende hoof van Breast Cancer Care, gesê. “Laat vandag die dag wees waarop jy begin om jou borste te leer ken.” Die Nasionale Gesondheidsdiens se riglyne oor hoe om jou borste te ondersoek is eenvoudig en dit behoort deel van ’n vrou se roetine te word. Om knoppe op te spoor, is die raad: “Kyk na jou borste en bevoel elke bors en okselholte, en voel dan op tot by jou sleutelbeen. Dit kan vir jou makliker wees om dit in die stort of bad te doen, want dan kan jy met ’n seperige hand oor jou bors en onder elke oksel voel.”

"Enige ongemak in die borste"

"Jy kan ook jou borste in die spieël bekyk. Hou eers jou hande langs jou sye terwyl jy kyk en hou hulle dan omhoog."

Behalwe rooiheid, uitslag en ’n ingeduikte tepel, moet jy ook let op veranderinge in die grootte en die vorm van jou bors, hoe jou vel lyk en voel (kuiltjies en rimpeling), verdikte en knopperige dele en enige ongemak in die borste.

Afskeiding van jou tepels wat nie melkerig of bloederig is nie, is ook tekens, en so ook ’n klam of rooi kol op jou tepel wat nie maklik gesond word nie. Wees ook bedag op veranderinge in die posisie van die tepel.

Intussen is daar vooruitgang wat die behandeling van borskanker betref.

Een hiervan is ’n eenvoudige bloedtoets wat deur Britse wetenskaplikes ontwikkel is. Die nuwe metode, wat die trauma verminder waaraan pasiënte blootgestel word, behels die neem van bloedmonsters pleks van weefsel en daardeur kan gevaarlike veranderings in tumors opgemerk word.

Dit kan vroue met gevorderde kanker langer help leef.

© Cover Media