Die fyn voetwerk tussen werkstres en ’n bedrywige sosiale lewe kan ’n nadelige uitwerking hê, en as daar nog babas bygereken moet word, vererger dit die saak aansienlik.

Dit is egter hoog tyd dat jy mooi begin nadink oor jou sluimeringe. As jy nie genoeg rus kry nie, is jy nie net iesegrimmig en leepoog nie, maar kan jy ook makliker siek word.

Volgens onlangse navorsing kan ses uur se slaap per nag ’n mens vier keer vatbaarder maak vir verkoue as wanneer jy ’n uur langer onder die komberse bly.

Altesaam 164 volwassenes is gemonitor terwyl hulle ’n week lank in ’n hotel tuisgegaan het. Agterna is elkeen neusdruppels gegee wat ’n verkouevirus bevat, en die navorsers het hulle dopgehou om te kyk wie kry verkoue en wie nie.

Mense wat minder as vyf uur geslaap het, het ’n vier en ’n halwe keer groter kans gehad om verkoue te kry.

Die wetenskaplikes het egter ander faktore ook in ag geneem, soos of die persoon gerook het of drank gedrink het, maar slaap het die grootste invloed op die uitslag gehad.

"Dit behels meer as om net deurmekaar en geïrriteerd te voel. Te min slaap benadeel jou liggaamlike gesondheid. Slaap gaan veel verder as ander faktore wat gemeet is. Mense se ouderdom, hul stresvlakke, hul ras, opleiding en inkomste het nie saakgemaak nie. Dit het ook nie saakgemaak of hulle rook nie,” het Aric Prather, medeprofessor in sielkunde aan die Universiteit van Kalifornië, San Francisco, in die tydskrif Sleep verduidelik.

"Daar is rekening gehou met alles wat hier bo genoem word, maar statisties het slaap steeds die deurslag gegee en dit was ’n oorweldigende sterk voorspeller vir vatbaarheid vir die verkouevirus.”

Hy het ook gewaarsku teen die gier om daarmee te spog dat jy te besig is om behoorlik te rus. Aric glo dat hedendaagse mense hulle daarop roem dat hulle besig is en soveel dinge in hul dag prop as wat hulle kan, maar om dit te doen ten koste van slaap is beslis nie goed nie.

© Cover Media