As iemand jou ’n gratis stafie sjokolade of ’n gratis bakkie slaai aanbied, watter een sal jy kies?

Jy sal dalk skuldig voel omdat jy onmiddellik na die soet opsie reik – maar dit kan ook ’n heel natuurlike proses in jou brein wees.

Die California Institute of Technology het in ’n studie bevind dat die brein die smaak van kos heel eerste in aanmerking neem.

Ons dink eers later aan die gesondheidswaarde van kos. Dit verklaar hoekom kitsbesluite dikwels lei tot die gryp na die volvet-opsie.

“Mense moet by tipiese voedselkeuses eienskappe soos gesondheid en smaak oorweeg voordat hulle ’n besluit neem," het Nicolette Sullivan, die hoofskrywer, verduidelik.

“Ons wou uitvind in watter stadium die smaak van voedsel begin inskop by die keuseproses, en in watter stadium gesondheid inskop.“

Die meeste mense weet watter kossoorte vir hulle lekker smaak en dit is natuurlik die eerste faktor waarmee hulle rekening hou. Gesondheid sneuwel dikwels wanneer ons kitsbesluite moet neem; veral by mense met min selfbeheersing.

28 voorgraadse studente, wat vier ure laas geëet het, is vir die studie gekies. Hulle moes almal 160 kossoorte beoordeel volgens ‘n skaal van -2 tot 2, terwyl hulle rekening moes hou met smaak, heilsaamheid en tot watter mate hulle die smaak van die kos sou geniet ná die eksperiment. Dieselfde kos is daarna weer aan hulle gewys, dié keer in 280 lukrake samestellings. Die deelnemers moes toe, met die klik van die muis, ’n gunsteling kies tussen die twee items op die skerm. Navorsers kon later die bewegings van die merker nagaan om te sien of die deelnemers vinnig op sekere kosse geklik het en ’n paar sekondes later, nadat hulle die gesondheidswaarde van die produk oorweeg het, moontlik van plan verander het.

Die California Institute of Technology het in ’n studie bevind dat die brein die smaak van kos heel eerste in aanmerking neem.

Die resultaat was dat smaak 200 millisekondes vroeër oorweeg is by die keuse van gesondheidskosse, terwyl 32 persent glad nie die gesondheidswaarde in ag geneem het nie.

Die volgende stap was om die groep in twee te verdeel volgens hulle vlakke van selfbeheersing. Deelnemers met die swakste selfbeheersing het die gesondheidsaspek van kos 323 millisekondes later oorweeg as dié met die meeste selfbeheersing.

As jy jou eetgewoontes wil verbeter, is dit dalk raadsaam om meer tyd te bestee aan die keuse van jou kos. As jy dus weet dat jy geneig is om ’n toebroodjie vir middagete te gryp, kan jy die vorige aand reeds begin om jou kos vir die volgende dag te berei. Jy het dan oorgenoeg tyd om te besluit watter lae-kalorie-happies jy kan inpak werk toe en jy sal minder geneig wees om ’n kitsbesluit te neem om skyfies by die snoepie te bestel.

Oorweeg dit gerus ook om eers na die spyskaart te kyk voordat jy na ’n restaurant toe gaan. Op hierdie manier kan jy eerder die kalorieë in ag neem by elke keuse en ’n ingeligte besluit neem, as om oorhaastig iets te kies wanneer die kelner opdaag.