Dis frustrerend, veral as jy middagete aan ’n slaaiblaar knibbel terwyl hulle aan ’n burger weglê – en dis steeds aan jou lyf wat die vetjies aanpak.

As hierdie situasie vir jou bekend klink, is dit tyd om na jou metabolisme te kyk. Want sekere gewoontes kon joune beskadig het en verhoed dat jy jou doelgewig bereik.

Eerstens moet jy bewus wees van die gewoontes wat jou metabolisme beskadig, soos om gedurig op ’n dieet te wees waarvolgens kilojoule-inname beperk word. As jy jou dus drasties beperk in ’n poging om vinnig gewig te verloor, doen jy dalk meer kwaad as goed.

Of sluit jy ’n hele kosgroep uit met die hoop dat jy soe vinniger weer in jou noupyp-jeans sal pas? Baie mense verruil koolhidrate vir vet, maar dit kan onverstandig wees.

’n Waarskuwingsteken dat jy jou metabolisme beskadig het, is wanneer jy nie jou daaglikse kilojoule-toelae kan eet sonder om gewig aan te sit nie. Baie verslankers wat hulle tot 6 276 kJ beperk, kan dit onmoontlik vind om soveel te eet sonder om gewig aan te sit.

Wanneer jy eers uitgepluis het wat met jou liggaam gebeur, kan jy die probleem begin aanpak en jou metabolisme herbou. Mind Body Green beveel aan jy werk jou ideale daaglikse kilojoule-inname uit deur jou gewig in kilogram met 138 te vermenigvuldig. As jy 59 kg weeg, behoort jy by 8 159 kJ per dag te hou. So sal jou liggaam weet wat om te verwag en nie wanhopig aan kos vasklou elke keer dat jy eet nie.

Let ook daarop dat dit nie ’n goeie idee is om kosgroepe heeltemal uit te skakel nie. Jou liggaam het ’n bietjie van alles nodig, wat beteken jy moet proteïen met vet en koolhidrate meng. Hou by gesonde vette soos dié in olierige vis, neute en sade en meng dit met “goeie” koolhidrate – volgraanpasta en quinoa is goeie keuses.

Sorg laastens dat jy gereeld eet. Moenie middagete oorslaan en dan jou liggaam met ’n groot aandete verras nie. Jou liggaam sal dink daar heers hongersnood en vasklou aan die swaar maaltyd wat jy geëet het uit vrees jy honger jou weer uit. Mik eerder na drie gesonde maaltye per dag en peusel gereeld aan vrugte, neute of gekapte rou groente om jou metabolisme tussendeur aan die gang te hou.

© Cover Media