Twee van die wenke wat mans dikwels kry as hulle vrugbaarheidsprobleme het, is om sekere kosse te eet en om seks vir eers op die agtergrond te skuif.

Nuwe navorsing het egter aan die lig gebring geslagsomgang twee keer per uur kan die sleutel wees om ’n man se kans om pa te word, te verdriedubbel.

In ’n studie wat deur die North Middlesex-hospitaal in Londen uitgevoer is, is 73 paartjies bestudeer wat die vrugbaarheidsbehandeling intra-uteriene inseminasie (IUI) ondergaan het. Dit beteken sperm word regstreeks in die baarmoeder geplaas.

Die ‘subfertiele’ mans het twee spermmonsters binne 60 minute geproduseer, en toe die tweede monster in die behandeling gebruik is, was daar ’n swangerskapsyfer van 20 persent. Dit was meer as drie keer meer as die verwagte suksessyfer van ses persent vir hierdie spesifieke metode.

Net so verstommend is die feit dat 15 van die vroue onmiddellik swanger geraak het, terwyl 10 persent swanger geraak het ná die tweede poging gedurende hul vrugbaarheidstydperk ongeveer ’n maand later. Dit het die deskundiges genoop om die idee dat mans hul sperm moet ‘spaar’ as hulle beplan om ’n baba te hê, tersyde te stel.

Hoe varser die monster is, hoe meer vrugbaar is dit.

Die studie het deel gevorm van ’n voortgesette projek om die swangerskapsyfers van IUI te vergelyk met in vitro-bevrugting (IVB), ’n tegniek waar vroue veelvoudige eiers produseer en waar ’n sperm in die laboratorium daar ingespuit word.

Die indrukwekkende resultate van IUI – wat teen 20 persent net vier persent laer is as die IVB – kan paartjies aanmoedig om alternatiewe behandelingsmetodes te soek, pleks van net IVB te gebruik. Die nuwe bevindings suggereer ook dat meer seks help om die spermtelling aan te wakker pleks van dit swakker te maak, want hoe varser die monster is, hoe meer vrugbaar is dit.

Dit is sleg vir mans om nie seks te hê nie.

Gulam Bahadur van die North Sussex-hospitaal, die studieleier van die navorsingstuk, het opgemerk: “Hoewel hierdie studie relatief klein is, glo ons dit is ’n groot stap vorentoe en dit kan ’n groot verskil ten opsigte van swangerskapsyfers meebring. ’n Mens kan aanneem dit sal dieselfde uitwerking hê as mans probeer om vroue op die natuurlike manier swanger te maak.

“ ’n Groot mate van waninligting bestaan,” het dr. Jackson Kirkman-Brown, ’n spesialis in menslike voortplantingswetenskap by die universiteit van Birmingham, bygevoeg.

“Mense dink nog as jy ’n baba wil hê, jy sperm moet opgaar, terwyl dit sleg is vir mans om nie seks te hê nie, aangesien dit die gehalte van die sperm raak. Hoe varser die sperm is, hoe beter is sy toestand.”

© Cover Media