Wat sou jy sê as iemand vra wat is die gesondste dieet ter wêreld?

Mediterreense eetgewoontes sou waarskynlik heelbo aan die lysie wees omdat dit al lank geloof word vir die gesonde vette en groente wat dit bevat. En nou is daar nog meer rede om dit te volg: in nuwe navorsing is bevind dié eetgewoontes kan jou ook teen geheueverlies beskerm.
En nou is daar nog meer rede om dit te volg: in nuwe navorsing is bevind dié eetgewoontes kan jou ook teen geheueverlies beskerm.

Navorsers het oor ’n tydperk van vyf jaar 27 860 mense in 40 lande bestudeer. Almal was ouer as 55 met siektes, wat diabetes of ’n geskiedenis van hartsiektes insluit, hoewel daar nie gekyk is na mense met ernstige siektes soos ’n onlangse beroerte nie.

Al die deelnemers se geheue en denkvermoë is getoets toe die studie begin het, weer twee jaar later en toe dit afgesluit is. Hulle is ook gevra oor die soort kosse wat hulle eet en navorsers het dus geweet of hul dieet baie groente, vrugte, neute, peulgroente, vis en olyfolie ingesluit het – dus die soort kosse waaruit die Mediterreense eetwyse bestaan.

Die aanvanklike toetsresultate is aangeteken en daar is besluit dat hul geheue en denkvermoë verswak het as hul daaropvolgende resultate met drie afgeneem het.

Navorsers het ontdek dié wat die gesondste eet, het ’n 24 persent kleiner kans vir ’n afname gehad teenoor dié wat die ongesondste geëet het. Altesaam 14 persent van mense wat gesond geëet het, se funksies het afgeneem, teenoor ’n afname van 18 persent onder dié wat nie gereeld groente en vrugte geëet het nie.

Om dinge billik te hou het navorsers syfers verstrek wat dinge soos die hoeveelheid oefening ook in ag geneem het, maar die resultate het dieselfde gebly.

Prof. Andrew Smyth van die McMaster-universiteit in Kanada is die outeur van die studie en sê dat die uitkoms deels so is omdat mense wat gesonde eetgewoontes volg, geneig is om ook in ander gebiede na hulself om te sien.

Die Mediterreense dieet is inheems aan plekke soos Italië, Griekeland en Spanje waar mense meer styselagtige kosse soos brood, pasta en groente eet en minder vleis. Dis goed omdat dit die diervet wat ingeneem word, verminder – diervet is al met die ontstaan van kankers verbind.

© Cover Media