Gewoonlik is dit die vrou wat moet sorg sy neem gereeld die pil óf kry getrou elke maand ’n inspuiting óf laat ’n toestelletjie inplant om te keer dat nog ’n pienkvoet sy of haar opwagting maak.

[caption id="attachment_132065" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie:  Instagram, dontchangemuch Foto ter illustrasie: Instagram, dontchangemuch[/caption]

Maar ’n jel vir mans, net so doeltreffend soos ’n vasektomie, sal na verwagting oor twee jaar beskikbaar wees, het die fakulteit van geneeskunde en gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch vandag aangekondig.

’n Vasektomie is ’n eenvoudige prosedure waarin die saadbuise wat sperma na die saadsakkies onder die blaas vervoer, deurgeknip en afgebind word. Die spermselle is dus nie meer deel van die ejakulaat (saadstorting) nie.

[caption id="attachment_132070" align="alignnone" width="600"]“As dit suksesvol is, sal dit die veld van voorbehoedmiddels drasties verander,” sê dr. Amir Zarrabi, ’n uroloog aan Maties. “As dit suksesvol is, sal dit die veld van voorbehoedmiddels drasties verander,” sê dr. Amir Zarrabi, ’n uroloog aan Maties. [/caption]

Hierdie nuwe metode is heeltemal omkeerbaar en daar is min of geen newe-effekte vir die man. Met ’n vasektomie moet sperma in ’n saadbank bewaar word ingeval jy eendag kinders sou wou hê. Met dié metode kan jy net die jel laat verwyder.

By ’n vasektomie kan moontlik kneusing en bloeding wees, en langtermynkomplikasies is ontsteking of post-vasektomie-pynsindroom, maar die kans om dit te kry, is baie gering.

Lees ook: Testikulêre kanker: Wat elke man moet weet

“As dit suksesvol is, sal dit die veld van voorbehoedmiddels drasties verander,” meen dr. Amir Zarrabi, ’n uroloog aan Maties. “Dit sal paartjies baie buigsaamheid gee,” voeg hy by.

Met Vasagel, wat op die oomblik in Amerika getoets word, is geen operasie nodig nie. Soos met ’n vasektomie, word die vloei van sperma van die testikels na die penis gestuit, maar pleks dat buisie wat die sperma vervoer, geknip word, word ’n jel ingespuit wat die sperma blokkeer maar ander vloeistowwe deurlaat.

Wanneer die tyd reg is vir nog kinders, kan die jel met ’n inspuiting van natriumbikarbonaat-oplossing uitgewas word.

Die studie is in sy derde jaar en dit wil voorkom asof die jel sal werk vir solank dit in die buisie is. Die inspuiting sal deur die skag van die penis gedoen word.

Hoeveel dit gaan kos, is nog onseker, maar die American Parsemus Foundation, ’n organisasie sonder winsbejag wat die toetse met die jel behartig, is vasbeslote om dit so laag moontlik te hou.

Lees ook: Kies jou voorbehoeding

Aanvanklik sal dit net in die privaat sektor beskikbaar wees en die grootste uitgawe sal die dokters wees, wat spesiaal opgelei sal moet word om die prosedure uit te voer.

In studies is bevind ’n pil wat mans se testosteroonvlakke in die testikels verlaag sodat sperm nie gevorm word nie, het te veel newe-effekte, vertel Amir. Die testosteroonvlakke in die bloed moet dan verhoog word. Dit lei tot aggressie, depressie, moegheid, ’n lae seksdrang, hoë bloeddruk en verhoogde cholesterolvlakke.

Gevolglik is die idee van ’n “pil” ’n paar jaar gelede agterweë gelaat, sê Amir.

KYK HIER HOE WERK DIE VOORBEHOEDMIDDEL