’n Man se keuse van onderklere sê nie net baie van hom as mens nie, maar kan ook aandui hoe gesond hy is.

Kenners het aan The Daily Mail vertel hoe verskillende onderbroeke alles van allergieë tot pyn kan veroorsaak.

Hou jy van sy of ken jy ’n ou wat die materiaal verkies? Dit lyk dalk gesofistikeerd, maar dit kan liesjeuk veroorsaak waar rooi, seer kolle, bekend as intertrigo, in die voue van die vel vorm. Dié soort dermatitis word deur die materiaal van onderklere veroorsaak, en sy is nie die beste keuse nie. “Intertrigo word gewoonlik veroorsaak deur ’n kombinasie van ekseem, ’n effense fungusinfeksie (fungi hou veral van warm, klam plekke) en ’n irritant, soos sweet. Mans wat baie oefen, kan daarvoor vatbaar wees, asook mans oor die algemeen in die somer,” verduidelik Adam Friedmann, ’n dermatoloog by die Whittington-hospitaal en die Harley Street-dermatologiekliniek in Londen.

'Een ding wat alle mans moet doen, is om elke dag skoon onderklere aan te trek.'

“Om die simptome daarvan te verminder beveel ons altyd aan mans dra onderbroeke wat van absorberende materiale, soos katoen, vervaardig word wat sweet sal opsuig en van die vel af wegvat.”

Dieselfde geld vir materiale soos Lycra en nylon. En hoe stywer die onderklere is, hoe vatbaarder sal die gedeelte vir die toestand wees. Mans moet liewer materiale soos katoen kies wat asemhaal om lug te laat sirkuleer. As ’n man krampe en pyne in sy testikels het, moet hy dalk stywe onderklere van katoen kies vir ondersteuning.

Dit kan mans tussen 20 en 40 raak en Zaki Almallah, ’n uroloog by die Queen Elizabeth-hospitaal en BMI The Priory-hospitaal in Birmingham, Brittanje, glo knus keuses kan help.

“Party mans ervaar dit gereeld, terwyl ander dit ná ejakulasie ervaar of nadat hulle lank gesit het soos terwyl hulle bestuur het,” sê hy. “Met losser onderklere is die testes minder saamgepers. Eintlik behoort dit minder pynlik te wees. Maar party mans verkies stywer want dit verminder beweging en dus ook die uitwerking op die testes. Dis ’n kwessie van beproef en kyk wat werk.”

Maar as dit meer ongemak veroorsaak, moet jy wegbly van noupassende onderklere en liewer professionele hulp kry. Allergieë is ook algemeen op hierdie plek en as mans in elk geval ly aan veltoestande, soos ekseem, kan die soort onderklere wat hulle kies, dit laat opvlam. Dit is bekend dat die rubber in die rek om die middel ’n reaksie kan veroorsaak.

Adam beveel aan jy kies bekende handelsmerke bo goedkoperes, want hoe goedkoper die onderbroek, hoe groter is die kans op ’n allergiese reaksie. Een ding wat alle mans moet doen, is om elke dag skoon onderklere aan te trek. Om dieselfde onderbroek dae lank te dra sal die kans verhoog op fungusinfeksies, soos candida en sproei. En dis iets wat geen man wil hê nie.

“Dit hou hoofsaaklik verband met bakterieë van die sitvlak en die feit dat mans sweterig raak en dikwels daar krap; daarom sal die onderklere nie kiemvry bly nie,” sê Adam.

© Cover Media