Om 'n kantoor te deel kan stresvol wees. Daar is altyd misverstande oor die verhittingstelsel of iemand wil nou eenmaal nie ophou gesels nie, dit maak nie saak hoe besig al die ander mense is nie.

Dan is daar natuurlik nog die kwessie van sindelikheid ... vuil skottelgoed, vullisblikke wat oorloop, en dan het ons nog nie eens begin gesels oor die toestand waarin die gesamentlike toilette dikwels is nie.

Baie mense sou reken dat die mans die skuldiges is, maar daar is in ’n onlangse ondersoek gevind dat vroue nie eitlik heeltemal so sindelik is as wat hulle dink nie. Die ondersoek is deur Initial Hygiene van stapel gestuur. In Australië het 43 persent van die vroue volgehou dat die manne met wie hulle saamwerk, nie eens basiese dinge, soos hande was, doen nie.

Hierteenoor het 89 persent van die ouens gereken hul vroulike kollegas het naarstigtelik skoongemaak. Maar wat was die eintlike syfers?

Dit was, snaaks genoeg, gelykop: 96 persent van albei geslagte was gesteld daarop om hul hande by die werk te was.

Die werklike skok het egter gekom toe badkameretiket bestudeer is, want hier het die manne loshande gewen. Slegs 42 persent van die vroue het die toiletsitplek by die werk vinnig af gevee nadat hulle dit gebruik het, in vergelyking met 52 persent van die manne. 77 persent van die ouens sou vinnig met die een of ander stuk sneespapier daaroor vee voordat hulle dit gebruik, maar slegs 59 persent van die vroue het dit as noodsaaklik beskou.

Meer van die manne het ook die moeite gedoen om die deksel af te slaan voordat hulle die toilet spoel.

Dit lyk asof mans ook nogal puntenerig is wat kieme betref, aangesien 67 persent van hulle erken het hulle sal probeer om nie aan iets te raak as hulle geweet het iemand anders was ook daarmee in aanraking nie. Hierteenoor het net 53 persent van die dames dit gedoen.

"Mans is van nature beskermend en territoriaal, en hierdie natuurlike voorkeure mag wel die rede wees waarom hulle versigtig is wanneer hulle hul eie toilette, sowel as dié van ander mense, gebruik,” het die sielkundige, Emma Kenny, verduidelik.

Die gedagte wat jy hieruit behoort te neem, is dat jy 'n bietjie tyd moet gebruik om aan jou medewerkers ook te dink. Niemand skud graag 'n slymerige hand nie, was dus altyd jou hande ná 'n besoek aan die badkamer of nadat jy op kantoor geëet het. Nog 'n goeie wenk is dat jy die kantoor se badkamer moet behandel asof dit jou eie is.

© Cover Media