Deskundiges beweer vroue wat uitgestel het om met ’n gesin te begin, is beter daaraan toe as hulle probeer om ’n baba saam met ’n jonger man te hê, aangesien die kans op bevrugting hoër is, want die DNS van sperm kan mettertyd beskadig raak.

Die data van 7,753 paartjies wat tussen 2000 en 2014 ’n vrugbaarheidskliniek in Boston besoek het, is onlangs in ’n studie deur akademici van die Beth Israel Deaconess Mediese Sentrum ontleed.  Die vroue is in vier ouderdomsgroepe verdeel – onder 30 jaar, 30-35, 35-40 en 40-42 – terwyl die mans in dieselfde kategorieë geval het, plus ’n groep bo 42.

Vroue in die oudste groep het die laagste geboortesyfers getoon, maar die mans se ouderdom het hier geen rol gespeel nie. 

Die ouderdom van hul manlike maat het egter blykbaar geboortesyfers by jonger vroue beïnvloed.

Resultate het getoon by mans tussen 30 en 35 was ’n gemiddelde geboortesyfer van 73 persent met vroue van 30 jaar of jonger, vergeleke met die gemiddelde geboortesyfer van 46 persent by mans tussen 40 en 42 jaar.

Daar was geen uitwerking indien die man en die vrou ewe oud was nie, hoewel sommige van die vroue tog sterker resultate ondervind het indien hulle saam met ’n jonger man was. Die moontlikheid van vroue tussen 35 en 40 jaar oud met ’n man van 30 jaar of jonger, was ongeveer 70 persent, vergeleke met 54 persent as die mans tussen 30 en 35 was.

"Ons het oor die algemeen geen noemenswaardige afname in kumulatiewe lewende geboortes opgemerk indien ’n vrou se manlike metgesel net so oud soos sy of jonger was nie,” sê die hoofnavorser, dr. Laura Dodge. Maar vroue tussen 35 en 40 het duidelik voordeel getrek as hul maat jonger as 30 was, sodanig dat daar ’n verbetering van byna 30 persent was in die kumulatiewe voorkoms van lewende geboorte, vergeleke met vroue wie se maat 30 tot 35 jaar oud was – van 54 tot 70 persent.”

Sy sê daar is min wat mans kan doen om die invloed van ouer word op hul sperm te beperk, maar stel tog voor hulle volg ’n gesonde dieet.

"Afnemende spermgehalte speel beslis ’n rol, maar ons werk toon dat dit nie die volledige prentjie is nie,” het dr. Dodge bygevoeg. “Ons het soortgelyke resultate gekry by paartjies waar daar geen onvrugbaarheid by die man aangeteken is nie; dus is iets anders aan die gang.” 

Die navorsers het hul bevindings vandag (Dinsdag 4 Julie) op ’n vergadering van die Europese Genootskap van Menslike Voortplanting en Embriologie in Genève aangebied.