Dit is soms moeilik om die geesdrif bymekaar te skraap om die gimnasium te bestorm om van ons slapperige maag ontslae te raak, maar navorsing het getoon daar is ander maniere om hierdie liggaamskwessie te takel – en die towerwoorde wat jy moet onthou, is mono-onversadigde vetsure (MOVS).

Die magtige MOVS kan jou help om van vet om jou middel ontslae te raak, dus kan jy hulle by ’n gebalanseerde dieet voeg en so ’n werklike verskil maak. Volgens ’n studie in die Maart 2007-uitgawe van die Tydskrif vir Diabetessorg kan jy jou liggaam help om vet uit die maaggedeelte te verbrand as jy ’n bron van MOVS by elke maal insluit. Hierdie vette help ’n mens se basale metaboliese tempo verhoog en stel jou dus in staat om vet vinniger te verbrand.

Die towerwoorde wat jy moet onthou, is mono-onversadigde vetsure

As daardie halsstarrige, papperige gedeeltes om jou maag dit vir jou moeilik maak om in jou geliefkoosde denimbroek te kom, of jy, met Kersfees net om die draai, bekommerd is oor ooreet, kan jy dit gerus oorweeg om ’n klompie MOVS by jou dieet te voeg.

Kossoorte wat ryk is hieraan, sluit in oliesoorte, neute, avokado’s, olywe en selfs donkersjokolade.

Mono-onversadigde vette help jou om langer versadig te voel en verhoed dat jy verlei word om jou te ooreet.

Dit kan so eenvoudig wees soos om ’n lepel vol olyfolie, ’n hand vol olywe of ’n paar skywe avokado by jou toebroodjie vir middagete te voeg.

Ons gee hieronder ’n paar maklike idees wat jy by jou maaltye kan voeg.

Boaan die lysie is die wonderlike avokado. Hierdie groen wonder is propvol fantastiese dinge en dan is dit nog lekker ook, solank jy net sorg dat jy rypes kies.

Probeer dit fyn druk saam met lemmetjiesap, sout en peper vir ’n vinnige doopsous en eet dit saam met wortel- en rou groenrissiestokkies vir ’n gesonde happie.

Die ideale porsie om die boep te troef is sowat ¼ koppie, so hou dit in gedagte as jy ’n lekker bederfie saamflans.

As die versoeking van ’n toebroodjie vir middagete te groot is, pak ’n paar skywe avokado in, tesame met hummus en tamaties vir ’n maaltyd propvol vesel en proteïene, sowel as noodsaaklike voedingstowwe.

Dit is ’n heerlike bestanddeel vir aandete ook, veral saam met pasta of noedels.

Meng avokado met vars suurlemoen, olyfolie, knoffel en rissie en voeg dit dan by linguini vir ’n romerige gereg of kombineer fettucini met basiliepesto, rooi groenrissies en wortels, en rond dit af met skywe avokado.

Avokado’s is ook ’n welkome toevoeging tot slaaie propvol quinoa, kekerertjies, tamaties, komkommer en rooi-uie.

As jy volgende keer lus voel vir ’n roerbraai, voeg ’n eetlepel sonneblom-, sesame- of olyfolie by vir ’n MOVS-opkikkering. Vlassaadolie is ’n ander wonderbestanddeel en pas die beste by slaaisouse.

’n Hand vol kasjoeneute, Brasiliaanse neute, pistachioneute, haselneute of amandels is ook ’n gesonde happie, of bederf jouself met ’n sny bruin roosterbrood met natuurlike grondboontjiebotter. Jy kan ook sonneblom- of pampoenpitte oor jou slaaie sprinkel.

© Cover Media