Gesondheidskundiges waarsku kinders wie se dieet baie sout bevat, loop gevaar om oorgewig of vetsugtig te raak.

In ’n studie is bevind amper driekwart van kinders kry meer as die aanbevole hoeveelheid sout in.

Dit kom gewoonlik in alledaagse kossoorte, soos brood, kaas, ham en worsies, voor.

Navorsers aan die Deakin-universiteit in Australië het die urine van 666 skoolkinders ontleed en bevind 70 persent van die kinders het meer as die maksimum hoeveelheid sout geëet wat vir goeie gesondheid aanbeveel word.

Kinders wat aan die studie deelgeneem het, het gemiddeld 6 g, of meer as ’n teelepel vol, sout per dag ingekry.

Die aanbevole daaglikse hoeveelheid is 4 tot 5 g.

Lees ook: Ontbyt oorslaan ‘moontlik goed vir jou dieet’

Dr. Carley Grimes, die hoofnavorser, het verduidelik dat elke bykomende gram vereenselwig word met “’n 23 persent hoër moontlikheid om oorgewig of vetsugtig te raak”.

“Kossoorte met meer sout kan wel geuriger wees en daar is dikwels ook meer vet en energie daarin. ’n Soutryke dieet kan ook lei tot ’n groter inname van energiedrankies, gelaai met suiker, indien dit beskikbaar is.

“Hierdie studie laat die gevaarligte flikker, aangesien ons nou goeie bewyse het wat aandui dat dit noodsaaklik is om die hoeveelheid sout te verminder wat ons kinders eet,” het Carley bygevoeg.

As niks aan die saak gedoen word nie, kan die gevolge vir ’n kind wat te veel sout eet, ’n uitwerking hê tot hy/sy volwassenheid bereik.

“So ’n hoë soutinname stel kinders bloot aan ’n lewenslange risiko vir chroniese siektes, soos hoë bloeddruk en hartsiektes,” het sy verduidelik.

Lees ook: Oorlewingswenke vir enkelouers

Die neiging tot abdominale vetsug was ook hoër by kinders tussen vier en sewe, en ook by dié tussen agt en 12 jaar wie se monster die hoogste soutinname getoon het.

Ekstra gewig om die maag verhoog die gevaar van ’n aantal chroniese siektes, insluitend tipe 2-diabetes.

Volgens prof. Garry Jennings, hoof uitvoerende beampte van die Nasionale Hartstigting in Australië, wat die studie gefinansier het, is die resultate ’n rede tot groot kommer.

“Dit beklemtoon die belangrikheid van die vermindering van sout om die risiko vir chroniese siektes, soos hoë bloeddruk en hartsiektes later in die lewe, te verlaag,” sê sy.

Die bevindings is in die British Journal of Nutrition gepubliseer.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot:

Beskerm só jou kind teen ongepaste inhoud op die internet

Sewejarige deur hond aangeval

Kyk: Ontstellende video wys hoe kleuter uit bewegende motor val en net weer opstaan

Wat gaan aan tussen Stefan Ludik en Anelle Bester?

Jammer, Catherine, die kroon van mooiste koninklike is nie meer joune nie