Koorsblare word veroorsaak deur die herpes simplexvirus.

Eerste infeksies gebeur gewoonlik tydens die kinderjare. Die kind kry seertjies in die mond en verhemelte, koors en opgeswelde kliere. Die simptome verdwyn gewoonlik binne drie tot ses dae sonder spesifieke behandeling. Die virus bly hierna sluimerend en die koorsblare kan later weer verskyn.

Algemene oorsake

  • Oormoegheid
  • Sonlig
  • Menstruasie
  • Ander bakteriële of virusinfeksies
  • Emosionele spanning

’n Koorsblaar ontwikkel op die lippe en omliggende vel. Dit begin met ’n prikkelende sensasie gevolg deur ’n rooi kol, waarna ’n blasie ontwikkel.

In dié stadium is jy baie aansteeklik vir ander mense wat nog nooit geïnfekteer is nie. Dit is dus belangrik om nabye kontak met ander mense (veral kinders) te vermy.

Die blasies maak geel korse en begin dan stadig genees; dit kan sewe tot 12 dae duur.

Behandeling

  • Sit ys op wanneer die prikkelende sensasie begin en begin dadelik met ’n antivirale room wat asiklovir as aktiewe bestanddeel bevat.
  • Maak die area skoon en gebruik ’n antiseptiese room of Vaseline om te keer dat korse bars en nog infeksie veroorsaak.
  • Antibiotika help glad nie.
  • Antivirale medikasie kan help.