Terwyl daar geen manier is om te weet hoe lank jy enkellopend sal bly nie, is dit die moeite werd om elke oomblik te geniet. Want wanneer die liefde eindelik opdaag, en dit sal beslis, kan jy met mooi herinneringe na jou alleentyd terugkyk. Hier is ’n paar wenke oor hoe jy die meeste daarvan kan maak.

Geniet ek-tyd

Party mense sê dit is vir hulle moeilik om alleen te wees, maar alleentyd kan jou ’n kans gee om jouself waarlik te leer ken. Koester eerder jou ek-tyd as om dit as iets neerdrukkends te beskou. En as jy nie jou eie geselskap kan geniet nie, hoe kan jy in elk geval verwag iemand anders moet?

Moenie oorhaastige besluite neem oor uitgaan nie

Net omdat jy ’n ruk lank alleen was, beteken dit nie jy moet uitgaan met die eerste mens wat in jou belangstel nie. Om jou standaarde te verlaag sal jou nie nader bring aan ’n gelukkige verhouding nie. Dit sal net jou tyd en emosies mors, om nie eens te praat van dié van die mens met wie jy uitgaan nie. Dink aan die alleenfase as ’n geleentheid om so gaaf moontlik met jouself te wees. Dit sluit in om baie kieskeurig te wees oor die mense saam met wie jy tyd deurbring. Moenie uitgaan soos ’n werk hanteer nie, dan sal jy die proses baie meer geniet.

Hou op praat oor alleen wees

Jou verhouding moet jou nooit as mens definieer nie – alleen of andersins. Hou op om jou liefdeslewe of huidige alleenstatus af te kraak wanneer jy in sosiale situasies oor jouself praat. Dit is nie al wat jy is nie. Daar is so baie ander eienskappe wat jy iemand kan bied. Laat dit eerder deurskemer.

Sê meer ja

As alleenloper is jy minder gebonde. Jy kan al jou eie besluite neem sonder om iemand anders in ag te neem. Sê ja vir goed! Of dit nou ’n wegbreek saam met vriende is, ’n spa-dag saam met jou ma of om ’n vriendin uit jou kinderdae te ontmoet wat jy jare laas gesien het – benut elke geleentheid wat oor jou pad kom om die ander verhoudings in jou lewe te ontwikkel en baie gelukkige herinneringe te skep.

© Cover Media