Jy het hom ontmoet toe hy nog ’n atletiese sportman was, maar nou het sy spiere onder ’n sagte kussing verdwyn en is die paadjie yskas toe baie dae die enigste oefening wat hy inkry. Erger nog, elke keer as jy die woord dieet noem, gryp hy ’n bier.

Gelukkig is jy nie die enigste vrou wat besorg is oor jou man se vetjies nie. Baie mans se gewigstryd begin in die fase van hul lewe wanneer hulle minder fokus op hoe hulle vir hul geliefde lyk en meer op hoe hulle vir hul geliefde kan voorsien, sê Monique dos Santos en Melissa van der Westhuizen van The Good Life Dietitians, ’n Suid-Afrikaanse webtuiste. Later jare aanvaar mans ook meer beroepsverantwoordelikhede wat hul tyd in beslag neem en raak dit moeiliker vir hulle om die gim in te pas.

'Ons verloor van nature spiermassa namate ons ouer word.'

“Ons verloor van nature spiermassa namate ons ouer word,” sê Monique. Die skuld vir daardie boepie kan jy boonop op testosteroon pak. Dit maak die mans sagter om die middel, net soos die vroulike hormoon estrogeen vroue rondings om die heupe en dye gee.

Waarom hou mans dan nie van diëte nie? Monique meen hulle is nie so gepla met hul gewig nie omdat hulle nie so gesteld op hul voorkoms is nie.

“Hulle sal liewer op dieet gaan wanneer hulle weet dis goed vir hul gesondheid as ter wille van hul voorkoms,” sê sy.

Gelukkig kan jy die man in jou lewe stil-stil op “dieet” sit – sonder dat hy dit eens agterkom. Die basiese beginsel van gewigsverlies is immers om minder kilojoules in te neem as wat jy verbrand. Monique sê ’n gesonde, matig

aktiewe man kan sowat 10 000 kJ per dag inneem. “Dit is sowat 120 kilojoules per kilogram per dag vir ’n man van 80 kg,” sê sy.

Verminder sy kilojoule-inname deur ’n paar basiese kossoorte te ruil, en plaas die klem op kos wat min kilojoules bevat, maar baie voedingswaarde en vitamiene het.

Jy kan dalk nie alles beheer wat hy oor sy lippe neem nie, maar as jy toesien dat hy ’n stewige ontbyt eet, ’n gesonde kosblik werk toe inpak en in die aand gebalanseerd en gesond eet, is die helfte van die gesondeet-stryd reeds gewonne.

Die 'geen dieet'-eetplan

Hier is Monique en Melissa se 10 kitswenke om jou man skelm gesond te laat eet.

  1. Vervang alle volroomsuiwelprodukte soos melk, jogurt en kaas met laevetweergawes.
  2. Vervang alle kilojouleryke versnaperings met gesonder keuses soos springmieliepitte, maer biltong, gesnyde vrugte en groente met doopsouse soos tzatziki en hummus.
  3. Vervang roomsouse met tamatiebasissouse.
  4. Verminder die voorraad worsies, salami en ander verwerkte vleis. Koop vleissnitte van goeie gehalte met min of geen sigbare vet.
  5. Wanneer julle braai: Vervang mayonnaise-ryke aartappel of pastaslaaie met opgekookte aartappeltjies met jogurtslaaisous en groenslaaie.
  6. Vervang die skyfies wanneer julle rugby kyk met olywe, transvet- en soutvrye springmielies, en maer biltong – dit het min kilojoules.
  7. Maak seker hy eet ontbyt. As hy ontbyt oorslaan, pak vir hom hawermout of ’n vrugteskommel werk toe in.
  8. As julle wegneemetes eet, kies liewer eetgereed-maaltye wat die kilojoule-inhoud op die verpakking aandui as vetterige kitskos.
  9. Gee vir hom ’n gesonde versnapering voor julle na ’n ete of braai vertrek – as hy nie honger is nie, is die kans skraler dat hy hom sal ooreet aan ongesonde snoepgoed en die voorgereg.
  10. Maak seker dat hy nie die oorgrote meerderheid van sy kilojoules deur vloeistowwe inneem nie. Hou net water en kilojoulevrye koeldrank soos Coke Zero en Sprite Zero in die yskas. ’n Ligte bier is beter as sy “normale” broer, maar jy spaar net 140 kJ per botteltjie. Beperk hom dus tot twee alkoholiese drankies per dag.