Maar daar word nou beweer sekere kossoorte kan jou gouer laat oud word as ander. Die bestanddele is geïdentifiseer op grond van elemente wat stres op die liggaam kan plaas, selle kan beskadig of op die lange duur kan bydra tot selveroudering.

?In die praktyk verhoog dieetpatrone met ’n hoë glikemiese indeks (baie koolhidrate) met verloop van tyd die inflammatoriese prosesse in die liggaam, terwyl diëte wat baie sout bevat, tot vloeistofretensie, swelling en verhoogde druk op die gestel lei,” het Susie Burrell, ’n dieetkundige, aan die Daily Mail Australia gesê.

As jy byvoorbeeld ’n muffin saam met jou oggendkoffie verorber, kan dit jou op die lange duur skade berokken. Die rede hiervoor is dat hoë suikervlakke in der waarheid die kollageenvlakke verander wat deur die liggaam vervaardig word, en dit kan jou liggaam sag laat lyk en voel.

?Die kragtige mengsel van versadigde vette en suiker beteken dat geprosesseerde koolhidrate in ’n nagmerrie ontaard as dit kom by die verhoging van inflammasie in die liggaam,” het sy gesê.

Chai lattes vaar ook onder die vaandel van hoë suiker, veral omdat baie koffiewinkels hulle nie met regte chai-blare maak nie, maar ’n vooraf gemengde stroop gebruik.

?Vooraf gemengde chai kan tot ses teelepels suiker per porsie bevat. As jy dit dus kombineer met die suiker wat natuurlik in melk voorkom, het jy ’n suikerbom wat in ’n oënskynlik gesonde drankie versteek is,” het Susie gesê.

’n Oormaat suiker kan skadelike molekules vorm wat die proteïene in die liggaam beskadig en die kollageen kan weer ’n bietjie slae kry. Dit lei op sy beurt tot ’n droë vel, wat plooie veroorsaak.

Met al dié dinge in gedagte kan mense meen hulle behoort liewer vrugtesap te drink as oggenddrankie, maar ook dit plaas jou in die vinnige baan op pad na die ouderdom toe. Die rede hiervoor is dat een glas gebottelde vrugtesap meer suiker bevat as wat mense dalk dink.

?Vrugtesap bevat nie alleen baie suur wat die enamel van die tande verwoes nie, maar met meer as ses teelepels suiker per glas, sal die sap jou insulienvlak die hoogte in laat skiet,” het sy voortgegaan. “Die hoë insulienvlakke word gekoppel aan inflammasie sowel as aan gewigstoename.”

Al hierdie inligting kan jou nou met reg laat wonder wat op aarde jy kan doen om veroudering te vertraag, maar daar is voedselsoorte wat tot jou voordeel kan werk. Vrugte en groente, heelgraansoorte, vetterige vis wat baie omega-3 bevat, en ook neute val in hierdie kategorie.

© Cover Media