’n Mens voel lekker wanneer jou besittings opgeruim en gesorteer is, of dit nou tuis of in die kantoor is. Daar is bewys dat, as jy dit doen, jy ook ander terreine in jou lewe, soos verhoudings en oefening, versterk.

Hier volg ’n klompie van die vernaamste voordele van ’n ordelike omgewing:

Eet gesond

’n Vorige studie het getoon dat diegene wat tien minute in ’n netjiese werkomgewing deurgebring het, dubbel so geneig was om ’n vrug bo ’n sjokoladestafie te kies as die mense in ’n wanordelike omgewing. Dit is waarskynlik te wyte aan die stres waaraan jou brein blootgestel is as jy in ’n wanordelike omgewing is, want dit veroorsaak dat jy trooskos soek. As jy in ’n skoon, netjiese plek is, is jou brein meer ontspanne en is jy minder geneig om toe te gee aan jou hunkerings.

Geestesgesondheid

As jy georganiseerd is, kan dit ook positiewe resultate op jou geestesgesondheid hê, want dit werk depressie teë.

Volgens ’n verslag wat in die Personality and Social Psychology Bulletin verskyn het, was vroue aan wie daar gevra is om hul huis te beskryf, meer gestres, depressief en tam wanneer hulle antwoorde gegee het soos “vol onvoltooide projekte” en “deurmekaar”. Die dames wat hul woonplek as “versterkend” en “rustig” bevind het, het nie hierdie gewaarwordings geopenbaar nie.

Dit is nie ’n wonder nie. ’n Natuurlike afname in die hormoon kortisol, wat deur wanorde veroorsaak word, het ’n nadelige uitwerking op jou gemoed. Die beste manier om te voorkom dat jy dooierig voel, is om die gewoonte aan te kweek om, wanneer moontlik, take te voltooi en netjies te bly. Moet ook nie dinge tot op die laaste oomblik uitstel nie.

Verhoudings

’n Netjiese omgewing verbeter ook hierdie aspek van jou lewe.

“Wanorde kan spanning en konflik veroorsaak by pare. Die tyd wat jy gebruik om verlore artikels te soek, kan van die tyd wegvat wat julle saam kon deurbring,“ het Eva Selhub, M.D., skrywer van Your Health Destiny: How to Unlock Your Natural Ability to Overcome Illness, Feel Better, and Live Longer, aan shape.com. gesê

“Disorganisasie kan lei tot ’n gevoel van skaamte en verleentheid. Dit kan in werklikheid ’n liggaamlike en ’n emosionele grens om jou skep wat verhoed dat jy mense binnelaat.“

Produktiwiteit

Ten laaste, en bes moontlik, kan jy baie meer verrig in ’n skoon omgewing as wanneer jy in ’n morsige plek is. Dit is maklik om selfs die poging om dinge te takel, uit te stel as daar ’n berg van goed is waaraan jy moet aandag gee. As jy voor allerlei verskillende stukke en brokke te staan kom, kan jou vermoë om te fokus versteur word, en, volgens die Journal of Neuroscience, kan jou visuele korteks en interferensie – visuele geheue – oorlaai word, sodat jy nie inligting kan verwerk nie.

As jou gedagtes minder afgelei word, staan jy ’n beter kans om dinge aan te pak sonder dat jy teruggehou word.

© Cover Media