Stofmyte is mikroskopiese familie van spinnekoppe en hulle verorber die dooie velselle van jou gesin en troeteldiere. Net omdat hulle nie, soos bedluise, mense byt om bloed te suig nie, beteken dit nie stofmyte is onskadelik nie.

Die ontlasting van stofmyte bevat ’n soort proteïen wat allergiesimptome, soos ekseem, niesbuie, neuse wat jeuk en loop, oë wat jeuk, en selfs asma veroorsaak indien jy daaraan raak of dit inasem.

Stofmyte is van 0.25mm tot 0.50mm lank. Hulle is selfs al in Antarktika en op die Mir-ruimtestasie gevind. (Foto: wikipedia.org)

Stofmyte is van 0.25mm tot 0.50mm lank. Hulle is selfs al in Antarktika en op die Mir-ruimtestasie gevind. (Foto: wikipedia.org)[/caption]

Hoewel die afvalstowwe van stofmyte oral in jou huis versamel, kom die grootste konsentrasie van die allergeen voor in beddens, waar hitte, klammigheid en ’n eindelose voorraad dooie velselle die volmaakte omgewing skep vir massiewe kolonies myte.

Hier volg ’n paar feite wat nagmerries kan veroorsaak. Die gemiddelde matras huisves enigiets tussen 100 000 en 10 miljoen myte. En kussings kan selfs meer weersinwekkend wees: Tien persent van ’n twee jaar oue kussing kan bestaan uit stofmyte en hul afskeidings, afgewerpte velle en karkasse.

As jy slapelose nagte kry oor al hierdie inligting, is dit tyd om iets te doen aan jou onsigbare matrasmaats.

OPLOSSINGS VIR ’N MYTVRYE NAGRUS

Dokters stem saam die eerste stap in die verligting van allergiesimptome is die vermyding van snellers.

Jy kan jou blootstelling aan stofmyte aansienlik verlaag deur hierdie wenke vir ’n mytvrye sluimering met ’n skraler kans vir allergieë.

  1. Aangesien die meeste kontak met stofmyte in die bed voorkom, is die beste manier om jou blootstelling te verlaag, die gebruik van mytdigte oortreksels vir jou matrasse en kussings. Ten einde mytdig te wees, moet ’n matrasbeskermer so dig geweef wees dat dit waterdig is. Dié oortreksels sal steeds genoeg lug deurlaat vir ’n gerieflike nagrus.
  2. As jy nie in ’n oortreksel belê het wat jou hele matras bedek nie, moet jy jou matras een keer per maand stofsuig.
  3. Was jou matrasbeskermer elke vier tot ses weke met ’n warm wassiklus om sweet en velskubbe te verwyder wat daarin vassit. Was jou bedlinne elke week in water wat tot 60 °C verhit is. Was duvetbinnestes en kussings een keer per maand. (Jy hoef jou kussings net een keer per jaar te was as jy kussingbeskermers gebruik).
  4. Sagte speelgoed wat saam met jou slaap, moet elke week in warm water gewas word. Speelgoed wat nie in warm water gewas kan word nie, kan vir 24 uur in die vrieskas geplaas en dan in koue water gewas word om stof te verwyder.
  5. Troetel die slonskous in jou binneste. Dood myte deur jou duvet oop te los om droog te word voor jy jou bed opmaak.
  6. Sintetiese vulsels vir duvets en kussings is minder stofmytvriendelik as dié van vere of dons.

    Stofsuig slaapkamermatte en die basis van die bed dikwels, by voorkeur met ’n stofsuier met ’n goeie HEPA-filter (hoogs doeltreffende partikelabsorberende filter).

  7. In ernstige gevalle van allergie moet jy matte vervang met harde vloeroppervlaktes en gordyne met blindings.
  8. Was die vloere elke dag en vee blindings af.
  9. Moet ook nie vergeet om die troeteldiere se beddegoed te was nie, want stofmyte kan ook allergieë by diere veroorsaak.