As jy weer skuldig voel oor jy die alarm vir jou oggend-drafsessie afdruk, is dit dalk ’n troos om te weet jy doen dalk wat die beste vir jou liggaam is.

In plaas van om te luister na raad dat jy die dag met ’n drafsessie moet afskop, sê navorsers aan die Birmingham-universiteit in Engeland jy moet wag tot ná werk om op die trapmeul te klim of by die park ’n draai te maak. Navorsers het 20 professionele atlete tussen 07:00 en 22:00 aan fiksheidstoetse laat deelneem. Hulle is ook gevra om ’n vraelys in te vul wat sou help vasstel of die betrokke mans en vroue vroegopstaners of naguile – of iewers in die middel – is.

'Die biologiese klok het so ’n groot invloed omdat bykans elke sel in die liggaam een het.'

Diegene wat vroeg opgestaan het, het op hul beste teen twaalfuur die middag presteer, terwyl die naguile op hul beste om 20:00 was, en dié in die middelste groep was op hul beste teen 16:00.

As jy verkies om laat te gaan slaap en laat op te staan, is dit veral belangrik om na jou biologiese klok te luister. Die naguile het 26 persent swakker gevaar toe hulle gevra is om in die oggend te oefen. Verbasend genoeg het selfs dié wat vroeg opstaan – wat douvoordag wawydwakker is – ook nie baie goed so vroegoggend gevaar nie.

“Die biologiese klok het so ’n groot invloed omdat bykans elke sel in die liggaam een het,” sê Roland Brandstaetter, ’n navorser by die Birmingham-universiteit.

“Daar is ’n biologiese klok in die brein en ook in die organe, in die hart, lewer, alles, en jou fisiologie word hierdeur beheer. Alles gebeur op ’n dag-aand-basis.”

Is jy onseker of jy die soort is wat vroeg uit die vere of ’n naguil is? Vroegopstaners voel wakker binne 30 minute nadat hulle wakker geskrik het, maar dit neem naguile vyf tot ses uur om wakker te voel. Die resultate is in die joernaal Cell gepubliseer.

© Cover Media