In 'n nuwe studie word egter beweer dat gehoorverlies verbind kan word met ernstige gesondheidskwessies, soos geheueprobleme en hartsiektes. Daarom is dit dalk tyd dat jy mooi luister en jou ore spits.

Ons is almal onderworpe aan gehoorverlies – of dit nou die gevolg is van te veel rockkonserte in ons jeug, ons gene of die gedurige gezoem van die hedendaagse lewe. Die truuk is om dit vroegtydig agter te kom en iets daaromtrent te doen.

Robert Beiny, die Oudioloog van die Jaar in die VK en Europa, en ook Direkteur van die Gehoor- en Gesondheidsorgpraktyk in Hertfordshire, is een van die gehoorspesialiste wat mense aanraai om die welstand van hul gehoor meer ernstig op te neem.

“Wat het gehoor daarmee te make?” het hy peinsend aan Cover Media gesê. “Gesondheid het nog altyd 'n gesonde balans van die kop, liggaam en gees beteken en dit het uitgeloop op 'n algehele gevoel van welsyn. Jy het meer as net 'n appel per dag nodig om die dokter te laat wag. Fiksheid, oefening en dieet speel almal 'n rol – en 'n goeie gehoor kan hierby ingereken word.

“Veranderinge in gehoor kom so stadig dat ons nie geringe veranderinge oplet in die manier waarop ons geselskap geniet en met kollegas kommunikeer nie. Bewyse hiervan kom in die vorm van 'n verhoogde risiko op hartsiektes, diabetes en verlies van geheue. Ons karakter verander en ons kan aan verhoogde angs, sosiale isolasie, depressie en onsekerheid ly."

Daar is ook aansienlike voordele op persoonlike-, sowel as professionele-gebied wanneer jy jou gehoor oppas. Robert merk dat wanneer ons gehoor verbeter, ander aspekte, soos gesinsverhoudings en die gesondheid van die brein ook 'n hupstoot kry.

"Navorsing staaf nou die feit dat mense wat goed hoor, beter salarisse verdien en beter werksgeleenthede kry, dus maak dit sin dat jy jou gehoor optimaal hou,” voeg hy by.

Dit is dalk hoog tyd dat jy 'n plaaslike oudioloog opspoor en 'n gehoortoets ondergaan sodat jy seker is jy is A-oukei. Die deskundige se raad is: “Voeg gehoor by jou gewone gesondheidsorglysie, tesame met oogtoetse, tandartsbesoeke en roetine-ondersoeke deur jou huisdokter.”

Moet jou nou ook nie bekommer as gehoorverlies reeds 'n probleem is nie; die tegnologie is jou vriend. Die dae van lelike gehoortoestelle en antennes in die oor is lankal iets van die verlede, en daardie uitvindsels wat jou oupa eens op 'n tyd agter sy oor geplak het is ouderwets. Vandag se hulpmiddels is subtiel en feitlik onsigbaar.

© Cover Media