Kenners aan die Universiteit van Alberta in Kanada hou vol LMI, die mates van iemand se liggaam van hul gewig en lengte, moenie bepaal hoe gesond ’n mens is nie. Hulle meen ook die syfer kan dokters verkeerde behandeling vir pasiënte laat voorskryf.

LMI, wat in die 1970’s ’n gewilde maatstaf geword het, word as gesond beskou as dit tussen 18,5 en 24,9 is. Enigiets minder as dit word ondergewig genoem, tussen 25 en 29,9 oorgewig en 30 en meer vetsugtig.

Dr. Arya Sharma, navorser oor vetsug aan die Universiteit van Alberta, het aan Live Science verduidelik LMI kan nuttig wees om met liggaamsgewigneigings tred te hou. Maar hy sê dit het baie tekortkomings, veral in die geval van atlete, wie se spiermassa daartoe kan lei dat hulle per ongeluk as oorgewig of vetsugtig geag word.

Die mediese kenner het ook opgemerk mense met ’n LMI van 30 en meer kan in werklikheid gesond wees en hy meen grootte moenie as ’n siekte geklassifiseer word soos vetsug nie.

“LMI is ’n kleregrootte. Dit sê vir my hoe groot jy is,” het Arya bygevoeg. “Dit sê nie vir my hoe siek jy is nie. LMI is nie ’n goeie kriteria om ’n siekte te diagnoseer nie.”

Dr. Scott Kahan, direkteur van die nasionale sentrum vir gewig en gesondheid, voeg by: “Wat enige vetsugspesialis behoort te doen, is om LMI as ’n eerste stap te gebruik, en dan verder as LMI te gaan soos nodig.”

Arya sê mediese kenners moet vir fisieke gesondheidsprobleme soos diabetes asook geestesgesondheidsprobleme en funksionele gesondheid op die uitkyk wees wanneer hulle voortaan vetsug diagnoseer, pleks van net op LMI staatmaak.

Hierdie drie aspekte word by die Edmonton-vetsugstelsel ingesluit wat Arya en sy kollegas geformuleer het.

© Cover Media