Die hormoon kom voor wanneer jy ’n nuwe romanse aanknoop, by moeders en selfs by honde-eienaars, en dit bevorder ’n gevoel van vertroue en vrygewigheid. Net soos in die geval van drank, kan oksitosien ook lei tot gevoelens van aggressie.
Hoewel dit onwaarskynlik is dat ons binnekort drankies vir drukkies sal verruil, kan oksitosien moontlik help met die behandeling van toestande soos anoreksie en outisme.

Tydens die kraamproses word baie oksitosien vrygestel om nuwe ma’s ’n band met hul babas te help smee. Aanraking kan ook daartoe lei dat die hormoon vrygestel word, ongeag of jy aan ’n mens of ’n troeteldier raak. Oksitosien kom ook voor wanneer jy seks het – dit verklaar die hegte verbondenheid wat jy agterna voel.

Navorsers aan die Universiteit van Birmingham (UB) het die ooreenkomste tussen oksitosien en alkohol as “merkwaardig” bestempel en gesê albei verlaag ’n mens inhibisies en maak jou meer vertrouend en vrygewiger. Dit beteken egter ook dat jy meer geneig kan wees om risiko’s te loop wat jy onder normale omstandighede nie sou nie en dit onderwerp jou ook aan gevoelens van jaloesie, aggressie en arrogansie.

Tog kan oksitosien jou net mooi die hupstoot gee wat jy nodig het om senutergende situasies die hoof te bied. Gee jou troeteldier of jou maat voor ’n onderhoud of eksamen ’n drukkie en kry so ’n skoot oksitosien, is die raad van dr. Ian Mitchell. Hy verduidelik ook die aggressiewe uitwerking van oksitosien is normaal; nuwe ma’s is “geprogrammeer” om hul kleintjies te beskerm.

Hoewel dit onwaarskynlik is dat ons binnekort drankies vir drukkies sal verruil, kan oksitosien moontlik help met die behandeling van toestande soos anoreksie en outisme.

Dr. Steven Gillespie van die UB het gesê: “Ek dink nie daar sal ’n tyd aanbreek dat oksitosien as ’n alternatief vir alkohol ingespan sal word nie, maar dit bly ’n fassinerende neuro-chemikalie wat moontlik aangewend kan word by die behandeling van geestestoestande. As ons weet hoe dit sekere gedragsvorme onderdruk en ons gedrag verander, kan dit vir baie mense voordele inhou. Hierdie navorsing sal hopelik nog lig hierop werp en moontlikhede ontsluit wat ons nog nie oorweeg het nie.”

© Cover Media