Die voorkoms van diabetes neem wêreldwyd toe omdat mense te min oefen en verkeerd  eet. Wêrelddiabetesdag word jaarliks op 14 November gehou om mense in te lig oor die gevare van dié siekte en hoe ’n mens dit beheer. Jy kan jou ondersteuning toon deur jou bloedsuiker op hierdie dag te laat meet. Volgens statistiek van Diabetes Suid-Afrika ly byna 3,5 miljoen Suid-Afrikaners aan diabetes, maar miljoene is nog nie daarvoor getoets nie.

Suikersiektelyers sukkel ook met ander ernstige gesondheidsprobleme, soos hart- en niersiektes en blindheid. Hoewel diabetes ’n lewensbedreigende siekte is, kan lyers, na gelang van hul leefwyse, lank en gelukkig lewe.

Die Clicks-apteker Waheed Abdurahman vertel lyers aan insulienweerstandigheid of diabetes moet hul siekte lewenslank beheer, soos om gereeld hul bloedsuikervlakke te monitor. Dit behels ook daaglikse gesonde dieet, gereelde oefening en die gebruik van medikasie of insulienterapie.

’n Mens behoort van jongs af bewus te wees van wat hierdie siekte behels. Jy moet die simptome daarvan ken en weet wat om te doen wanneer jy hoë of lae bloedsuiker het. Gereelde ondersoeke van die oë, tande en voete is noodsaaklik vir diabeteslyers. Rook en alkoholverbruik moet verminder word.

Wat is diabetes?

Diabetes is ’n toestand waarin die liggaam nie in staat is om die bloedsuiker naamlik glukose te beheer nie. Dit gebeur wanneer te min insulien, wat die hoeveelheid glukose beheer, afgeskei word. Daarom is suikersiekte nog ’n naam vir diabetes. Insulien is ’n hormoon wat deur die pankreas afgeskei word. Dit verbeter die vervoer van glukose deur die bloedstroom na die liggaam se selle, en na liggaamsdele wat dit nodig het.

Leer ken die verskillende soorte diabetes

  • Tipe 1-diabetes kom voor wanneer die pankreas ophou insulien vervaardig. Dit kan by mense onder 30, onder wie babas en kinders, gediagnoseer word. Lyers hieraan moet hulle met insulien inspuit om aan die lewe te bly.
  • Tipe 2-diabetes kom voor wanneer die pankreas nie genoeg insulien vervaardig nie of nie behoorlik funksioneer nie. Dis die algemeenste vorm van diabetes en 85 persent tot 90 persent persent van mense ly daaraan. Die meeste lyers is bo 40 en oorgewig. Vetsug is een van die toenemende oorsake van diabetes. Dit kom voor wanneer daar ’n metaboliese wanfunksie is weens geringe bloedsuikerwanbalanse of selfvoldoende tipe 2 diabetes.

Simptome

  • Drastiese gewigsverlies
  • Wasige sig
  • Gereelde urinering
  • Dikwels dors

Hoe om jou diabetes te behandel

Hoe jy lewe, sal beslis verskil van iemand wat nie aan diabetes ly nie. Tog beteken dit nie jy kan ’n gesonde lewe geniet nie. Jy moet eerstens aanvaar jy ly aan die siekte. Dan kan jy dit bestuur en beheer. Verskillende aspekte kan jou hiermee help.

  • Lei jouself op en leer meer oor die toestand.
  • Dis noodsaaklik om gesond te eet. Onthou dit gaan oor die bestuur van jou bloedsuikervlakke en om voedsel te eet wat dit nie sal versteur nie. ’n Dieetkundige sal jou kan sê wat en hoeveel jy van sekere voedselgroepe kan eet.
  • Raak fiks met gereelde oefening. ’n Goeie oefenplan sal jou liggaam help deur jou glukose laag te hou. Dit kan ook help met ander faktore wat jou gesondheid kan beïnvloed, soos stres.
  •  Neem jou medikasie. Tipe 1-diabetes moet daagliks insulieninspuitings kry. Bloedglukosevlakke van 4-6mmol/l word as normaal beskou.

BRON: Diabetes Suid-Afrika

Vir nog inligting oor diabetes, besoek Diabetes SA.