Is jy bang om die huis te verlaat, in ’n hysbak te klim of êrens heen te vlieg? Dalk ly jy aan ’n angssteuring.

Sowat drie persent van die bevolking het dié toestand, wat onvoorspelbare en skielike vrees kan veroorsaak. Diegene met angssteurings ontwikkel ook fobies, veral ’n intense vrees vir verdere paniekaanvalle. Dit veroorsaak dat hulle plekke vermy waar vorige aanvalle plaasgevind het. As iemand byvoorbeeld ’n angsaanval gehad het terwyl hy bestuur het, sal hy bang wees om weer agter die wiel in te skuif, selfs al is dit net om gou die plaaslike supermark om die hoek te gaan, sê die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag).

Gelukkig herstel 90 persent van lyers met die regte behandeling en terapie, maar dis belangrik om te weet dit wat jy ervaar is ’n angsaanval en dat jy die nodige hulp daarvoor kry.

Leer ken die simptome van ’n angsaanval:

  • Onverwagte en herhaaldelike aanvalle van vrees wat soos ’n hartaanval kan voel.
  • Jy voel buite beheer.
  • ’n Intense kommer oor wanneer die volgende aanval sal voorkom.
  • Vermy plekke waar vorige aanvalle plaasgevind het.
  • Fisieke simptome: hartkloppings, sweet, sukkel om asem te haal, bors- en maagpyn, duiseligheid, hande wat dood voel of prikkel, koue rillings of warm gloede.

Bronne: sadag.org, timeslive.co.za