Dis alom bekend dat jy verstandelike agteruitgang kan vertraag as jy jou brein aktief hou, en nou het ’n nuwe verslag, Engage Your Brain, internasionale navorsing oor breingesondheid ontleed en vasgestel presies wat jou brein help en wat nie.

“Dis nooit te laat om voordeel te trek uit kognitief stimulerende aktiwiteite nie, en jy kan op enige ouderdom nuwe dinge aanleer,” verklaar die verslag.

Nes jy die res van jou liggaam moet oefen om jou liggaamskrag te behou, moet jy aan breinaktiwiteite deelneem om die gesondheid van jou brein te ondersteun.

“Daar is baie maniere waarop jy dié soort aktiwiteite in jou daaglikse lewe kan inbring. As jy jou brein byvoorbeeld mettertyd – lank ná jou formele opleiding verby is – met opset betrek en uitdaag, sal daar beter kognitiewe veroudering by volwassenes voorkom.”

Die skrywers van die verslag sê voorts die aanleer van iets nuuts is die beste manier om die brein te betrek en aftrede is die ideale tyd om met ’n nuwe stokperdjie te begin. As jy boonop saam met ’n vriend of vriendin by ’n groep aansluit, gaan julle albei waarskynlik langer volhou met die nuwe belangstelling.

Maar hulle wys ook daarop dat daar nie voldoende bewyse is dat apps en speletjies vir breinoefeninge regtig voldoen aan die bewerings van die maatskappye wat dit bemark nie. Hoewel een aspek van jou denke dalk by die speletjies kan baat vind, is daar min bewyse dat hulle goed is vir algehele breinfunksie.