Jy besef dit dalk nie, maar graan is ’n groot deel van jou daaglikse dieet – dink net aan al die hawermout, rys en mielies wat jy eet.

Daar is so baie verskillende graansoorte, maar party is bekender as ander.

Die vegetariese sjef Amy Chaplin se boek, At Home in the Whole Food Kitchen, gee lesers insig oor hoe om heilsame etes te berei van bestanddele wat reeds in die huis is. Sy gee ook inligting oor minder bekende graansoorte en bied wenke oor hoe om dit in etes te gebruik. Onder is die drie wat sy voorstel jy deel van jou eetgewoontes maak.

Spelt

Dit is ’n soort antieke koring wat volop proteïen en vesel bevat. Boonop is dit laag in gluten. Dit is baie makliker om te verteer as gewone koring en is vol saamgestelde koolhidrate, wat bloedstolling voorkom en die die liggaam se immuunstelsel versterk. Dit het ’n lekker neutagtige smaak en sal ’n welkome toevoeging tot jou dieet wees. Dit moet liefs in droë toestande gebêre word, soos in die spens.

Spelt kan maklik by jou etes ingewerk word; dit is ’n lekker bolaag vir krummelpoeding of jy kan dit in deeg gebruik om pasta en gebak te maak.

Manna

Manna is ’n grassoort met ’n klein saad; dit kan soos voëlkos lyk, maar dit sal ’n heerlike toevoeging tot jou gunstelinggeregte wees. Dit is heeljaar beskikbaar en kan rooi, geel, grys of wit wees. Dit kook vinnig gaar, is glutenvry en die enigste graansoort wat ’n alkaliserende uitwerking op die bloed het. Te danke aan die hoë alkaliese inhoud help dit die maag streel en die niere versterk. Dit bevat ook baie yster en verteer maklik.

Sprinkel dit oor ’n slaai, meng dit by kapokaartappels of sit dit voor as ’n plaasvervanger vir rys. Die aardse smaak sal nie by almal aanklank vind nie, maar wanneer dit met ander kosse gemeng is, is dit nie so opvallend nie.

Amarant

Die sade van die blomplant amarant is baie soortgelyk aan quinoa – hulle is albei baie voedsaam en ryk aan proteïen en kalsium, wat jou bene en naels versterk. Dit bevat meer magnesium as ander glutenvrye graansoorte. En hier is nog ’n voordeel: Jy kan die blare in byvoorbeeld roerbraai eet.

Amarant verleen ’n taai tekstuur aan alles waarby dit gevoeg word; dit is dus lekker in geregte soos chili con carne, of jy kan jou ontbytpap daarmee vervang. Besoek jou plaaslike gesondheidswinkel en kyk of hulle stafies verkoop wat amarant bevat.

© Cover Media