Wetenskaplikes van 177 universiteite, inrigtings en hospitale het die DNS van byna 70 000 vroue in Europa bestudeer. Navorsers het gevind dat, vir elke jaar nadat ’n vrou 50 geword het en steeds premenopousaal is, haar risiko op borskanker met ses persent styg. Hulle glo die vertraging verleng die tydperk wat ’n vrou met estrogeen in aanraking is. Dit is bekend dat hierdie geslagshormoon gewasse aanwakker en dus is dit ’n groot faktor ten opsigte van gesondheid.

Kundiges van die universiteite van Cambridge en Exeter was aan die roer van sake by hierdie studie en hulle het ouer vroue wie se menopouse nog nie begin het nie, gewaarsku dat hulle ekstra versigtig moet wees wanneer hulle op die uitkyk is vir die vroeë waarskuwingstekens van borskanker.

Wetenskaplikes het 44 gene gevind tydens hul navorsing wat bepaal wanneer vroue se menopouse begin. Hoewel baie van die gene beskadigde DNS in die eiers herstel het, is daar bevind ’n foutiewe geen kan daartoe lei dat eiers doodgaan. Die gevolg is dat die menopouse vroeër sal begin.

Dit beteken die navorsing het ook betrekking op jonger vroue, aangesien daar ’n nuwe toets in die vooruitsig gestel word wat kan aandui wanneer vroue deur menopouse sal gaan. Paartjies wat kinders wil hê, sal dus weet wanneer hulle kan begin probeer.

Met dieper ondersoek van die gene kan medisyne geskep word om te help om die eiers te beskerm en sodoende te voorkom dat vroue deur ’n vroeë menopouse gaan.

“As jou menopouse laat is, sal dit miskien help as jy bewus is van hierdie effens hoër risiko op borskanker en sal jy ook beter voorbereid wees,” het dr. Anna Murray van die universiteit van Exeter die bevindings verduidelik wat in die tydskrif Nature Genetics gepubliseer is.

Dr. Edward Morris, van die Royal College of Obstetricians and Gynaecologists, het bygevoeg die uitslae is “gerusstellend”.

© Cover Media