Spanne van die Universiteit van Oxford, die Harvard-skool van Openbare Gesondheid en die Chinese Akademie van Mediese Wetenskappe het ’n vorige studie van byna 500 000 mense bekyk en bevind mense wat elke dag sterk kosse geëet het, was minder geneig om te sterf as dié wat net af en toe sterk kosse geëet het.

In die oorspronklike navorsing is gefokus op ’n groep van 487 000 Chinese tussen 30 en 79 jaar oud. Elke deelnemer het vrae oor hul gesondheid en dieet beantwoord en is oor ’n tydperk van sewe jaar dopgehou. In dié tyd het 20 224 gesterf. Daar is bevind dié wat gereeld sterk kos geëet het, was 14 persent minder geneig om te sterf, en veral siektes soos kanker en hart- en asemhalingsprobleme het baie min onder hulle voorgekom.

Die bevindings is in The British Medical Journal gepubliseer en wetenskaplikes reken ’n chemiese stof in rissies, kapsaïsien, kan dalk vetsug beveg en het antioksidante, anti-inflammatoriese en kankerbevegtende eienskappe.

Maar hulle het ook daarop gewys dat ’n besliste slotsom nie hieroor bereik kan word nie omdat hulle na die breë statistiese tendense gekyk het en nie na die presiese rol wat speserye in elke geval gespeel het nie.

Ander wetenskaplikes het ook daarop gewys dat mense die verskille tussen die Chinese en Westerse dieet in gedagte moet hou.” Dis belangrik om te besef in die studie word die stereotipiese Engelse tydverdryf om verskeie biere en ’n sterk kerrie weg te slaan nie aangemoedig nie,” het prof. Kevin McConsway van die Open University gesê. “Die verhouding tussen sterk kosse en ’n laer sterftesyfer het glo net gegeld vir mense wat glad nie gedrink het nie.”

© Cover Media