Daar is baie dinge wat jou libido kan verlaag; die meeste paartjies skryf dit toe aan stres, probleme in hul verhouding of dalk selfs voorskrifmedisyne. Maar het jy al ooit gedink aan die soort kos wat jy eet en hoe dit jou seksdrang kan beïnvloed?

Nuwe navorsing wys die vinger na kitskos, verwerkte opsies en nie-organiese produkte. Dit bevat meestal ftalate, wat ongelukkig daarvoor bekend is dat dit vroue se seksdrang laat daal.

Die studie is voorgelê tydens die jaarvergadering van die Amerikaanse vereniging vir reproduktiewe geneeskunde. Altesaam 360 swanger vroue in hul 20’s en 30’s is in die maande voor hulle swanger geraak het oor hul sekslewe uitgevra. Urienmonsters is deurgaans geneem om hul ftalaatvlakke te meet. Die uitslae het getoon die vroue met die hoogste vlakke is twee en ’n half keer meer geneig om te erken hul drange voel laer.

Hierdie chemikalieë word ook aangetref in talle alledaagse items soos stuurwiele, stortgordyne en amper alle buigsame, sagte plastiekitems. Dit is nie tydens die eksperiment in ag geneem nie, maar die studieleier, dr. Emily Barrett van die Universiteit van Rochester se skool vir genees- en tandheelkunde, het genoem dit kan ook ’n negatiewe invloed op jou libido hê.

“Ons weet ftalate is endokrienontwrigters wat mans se hormoonvlak beïnvloed,” het Emily verduidelik. “Maar hierdie navorsing toon ftalate beïnvloed ook hormone by vroue, veral die estrogeen en testosteroon (vroue het wel ook testosteroon) wat die libido dryf.”

Dit beteken nie jy moet alle lekkernye uitsny nie. As jy veilig wil wees en bekommerd is oor hoeveel kitskos of nie-organiese produkte jy eet, kan jy net jou inname daarvan verminder en meer vars, organiese kosse by jou dieet probeer inwerk.

© Cover Media