Het jy al moed verloor met ’n tiener wat net nie soggens wil opstaan nie?

Laat hom met rus, sê dokters. Volgens ’n studie waarvan die bevindinge vandeesweek in die vaktydskrif Pediatrics gepubliseer is, is tieners biologies geprogrammeer om naguile te wees.

Die Amerikaanse Akademie van Pediatrie (AAP) sê tieners se biologiese slaapritmes skuif met tot twee uur aan wanneer puberteit begin.

Dit beteken dat jou 13-jarige eers elfuur saans sal begin vaak raak as hy op 11 negeuur gaan slaap het; daarom gaan dit min help om hom te dwing om vroeër te gaan slaap.

Op grond van dié navorsing beveel die AAP aan skole behoort later soggens te begin sodat hul tye strook met tieners se slaappatrone.

Judith Owens, ’n pediater en die hoofnavorser van die studie, sê navorsing bewys duidelik tieners wat te min slaap, loop ’n groter risiko vir onder meer vetsug, diabetes en depressie.

“Tieners wat genoeg slaap, behaal beter punte en ’n algehele beter lewensgehalte.”

’n Taakspan binne die AAP het alle vorige studies oor ongenoegsame slaap onder tieners nagegaan. Enigiets minder as 8,5 tot 9 uur slaap op ’n weeksaand is onvoldoende vir tieners, het hulle bevind.

Talle faktore soos huiswerk, buitemuurse aktiwiteite, werk en tegnologie dra by daartoe dat tieners net te min slaap. Maar daar is beslis iets aan die hormonale veranderinge wat in tieners plaasvind wat hul liggaam se “horlosie” later stel sodat hulle later gaan slaap en later wakker word.

BRONNE: AAP.ORG, TIME.COM, SCIENTIFICAMERICAN.COM