’n Studie deur Silentnight en die Universiteit van Leeds in Engeland, waarsku minder as ses uur slaap per nag kan tot hoër vlakke van depressie of angs lei. Nog meer ontstellend is die kenners se bevinding: Meer as ’n kwart van die mense in Brittanje oorleef op net vyf uur slaap per nag.

Dr. Anna Weighall, wat die studie gelei het, het die skakel tussen rus en emosionele welsyn beklemtoon, aangesien die navorsing verskeie poskodes van oor die hele land nagegaan het.

Anna het uit die bevindings ’n tweerigtingverhouding ontdek wat ’n korrelasie getoon het tussen geestesgesondheid en slaap.

“Ons sien in die eerste plek die verhouding van waar mense woon teenoor hoeveel slaap hulle kry, terwyl die tweede waarneming uit die navorsing die skakel tussen slapelose nagte en die styging in geestesgesondheid toon,” het sy verduidelik.

“In gebiede waar ons ’n verlaging opmerk in die getal ure wat mense slaap, is ’n groter neiging om met probleme rakende geestesgesondheid te worstel.”

Geestesgesondheid word nie net geraak deur gebrek aan slaap nie, maar gesondheidsprobleme versleg ook. Anna het voortgegaan en genoem dat die skakels tussen slaap en liggaamlike gesondheid duidelik deur die opname voorgekom het en dit het vorige navorsing gesteun wat dit aan kardiovaskulêre probleme en metaboliese siektes, soos vetsug en diabetes, verbind het.

“Ons navorsing, wat uitgevoer is in samewerking met Silentnight, het getoon in watter mate ons, uit ’n oorsig van 1 000 volwassenes in Brittanje, ’n sterk verband gevind het tussen sleg slaap en verlaging in gesondheidsverwante lewensgehalte,” het sy beklemtoon.

Anna beveel aan dat enigiemand met geestesgesondheidsprobleme en wat graag elke nag meer slaap wil kry, ’n vasgestelde slaap- en opstaantyd moet probeer volg. Angs en stres kan veroorsaak dat slaaproetines omvergegooi word, maar met dié soort probleme het mense meer slaap nodig, ses tot agt ure.

Dr. Nerina Ramlakhan, ’n kundige op die gebied van slaap by Silentnight, het ook haar raad gedeel.

“Slaap is lewensnoodsaaklik om die liggaam op elke vlak te laat herstel en nie net op die fisieke vlak nie,” het sy gesê. “As ons nie diep, helende slaap kry nie, kan ons met verloop van tyd die simptome van angs en depressie ervaar.

“Goeie slaap maak die gees, liggaam en siel gesond. Wanneer ons die regte hoeveelheid diep slaap kry, herbalanseer dit elke sel, weefsel en orgaanstelsel in die liggaam. Hormoon- en senu-oordraers word herstel en herbalanseer en ons word vol heilsame energie wakker.”

Sy raai mense aan om nie snags te kyk hoe laat dit is nie en om die tegnologie uit die slaapkamer te hou.

© Cover Media