Wat het aarbeie, rooiwyn en donker sjokolade gemeen? Nie net is al drie wonderlike bestanddele vir ’n romantiese aandjie nie; dit bevat ook verbasend baie anti-oksidante.

Anti-oksidante is kragtige voedingstowwe wat die liggaam van skadelike en gevaarlike stowwe help ontslae raak. Jy dink dalk jy ly nog aan die nagevolge van al die oordaad in die feestyd, maar intussen het gifstowwe in jou liggaam opgehoop en dit verlaag jou energievlakke en laat jou moeg voel. Verskillende anti-oksidante help die liggaam homself herstel, hernuwe en teen verdure skade beskerm.

En dit kan ook siektes soos kanker, hartsiektes, Alzheimer-siekte en Parkinsonsiekte help afweer. Ondersoeke wys veral kosse met ’n plantbasis soos vrugte, groente, kruie, neute en sade is propvol anti-oksidante. Maar geen enkele voedselbron kan jou van al die voedingstowwe voorsien wat jy vir goeie gesondheid nodig het nie. Al eet jy ’n stewige porsie aarbeie vol antioksidante vir ontbyt, kan dit nie die skade ongedaan maak van ’n vetterige middagete of ’n fuifsessie daardie aand nie. Die belangrikste is dat jy elke dag ’n verskeidenheid kosse uit die sleutelvoedselgroepe eet om aan jou basiese voedingsbehoeftes te voldoen en daarna kan jy kosse met meer voedingswaarde in elke groep kies, as jy kan.

Kyk net hoe algemeen is antioksidante eintlik!

SPRINGMIELIES

Versteekte juweel Polifenole, ’n groep anti-oksidante wat in springmielies voorkom, beskerm jou onder meer teen die risikofaktore vir hartsiektes en weer kanker af. Dit kom ook voor in vrugte en groentee.

Hoekom jy dit moet eet Amerikaanse wetenskaplikes sê dit bevat net soveel antioksidante per gram as vrugte en groente. Hoekom? Dis eintlik ’n volgraan – dit word van gedroogde mielies gemaak.

Wenk Peusel eerder aan mikrogolfspringmielies as gekooptes, want dit kan baie botter of olie en sout bevat. As jy self op die stoof springmielies maak, gebruik olyf- pleks van sonneblomolie.

AARTAPPELS

Versteekte juweel Aartappels bevat baie karotenoïede, dieselfde soort anti-oksidant wat in wortels en tamaties voorkom en wat glo ’n beskermende uitwerking teen sekere soorte kanker het.

Hoekom jy dit moet eet Die nederige aartappel klop eintlik ander anti-oksidante op die A-lys, soos wortels en soetrissies, omdat dit nog ryker aan anti-oksidante is.

Wenk Moenie aartappels in olie braai nie. Eet die vel, want navorsers sê dis waar jy die grootste konsentrasie anti-oksidante sal kry.

PEKANNEUTE

Versteekte juweel Pekanneute bevat baie tokoferol, ’n versameling van die verskillende variëteite van vitamien E. Dit is al aan ’n groot verskeidenheid gesondheidsvoordele verbind, soos ’n kleiner risiko vir prostaat- en borskanker.

Hoekom jy dit moet eet Het jy al gesien ’n appel word bruin nadat jy dit oopgesny het? Of ’n motor begin mettertyd roes as dit nie in ’n garage parkeer word nie? Die oksidasie (die byvoeging van suurstof by ’n stof ) van vette in die bloedstroom verhoog die gevaar vir hartsiektes en pekanneute bied goeie beskerming daarteen.

Wenk ’n Ondersoek het gewys as jy vir vier weke elke dag ’n hand vol pekanneute eet, verlaag jou lipied-( vet-)oksidasie met meer as 7 persent.

SAMPIOENE

Versteekte juweel Ergotioneïen, wat ook in koringkiem voorkom, speel ’n belangrike rol om die liggaamselle te beskerm.

Hoekom jy dit moet eet Jy hoef nie geld te blaas op eksotiese soorte nie. Die doodgewone knopiesampioen bevat 12 keer meer ergotioneïen as koringkiem, wat voorheen as die beste voedingsbron beskou is. Navorsing wys ook die knopiesampioen bevat net soveel oksidante, en in party gevalle selfs meer, as tradisioneel duurder sampioenvariëteite. En die nederige outjie vaar beter as tamaties, pampoen, wortels en groenbone op ’n skaal waarmee die algehele anti-oksidantwerking gemeet word.

Wenk Al bevat die hele sampioen, steel en al, anti-okstidante, is daar ’n hoër konsentrasie daarvan in die “kop” van die groente.

KANEEL

Versteekte juweel Fenoliese vlugtige olies, wat die aktiewe bestanddele in die

meeste speserye is.

Hoekom jy dit moet eet Nes naeltjies is kaneel ’n ongelooflike ryk bron van antioksidante. ’n Teelepel (5 g) kaneel bevat amper 1,5 keer meer fenole as 100 g bloubessies. Daar is al bewys kaneel het ’n positiewe uitwerking op bloedsuikervlakke. Vir mense by wie diabetes al gediagnoseer is, is dit belangrik om dit te beheer en ook vir mense wat die gevaar loop om dit te ontwikkel.

Wenk Gooi dit oor jou graankos. Navorsers het bevind die anti-oksidantwerking van ’n bak graankos verhoog merkwaardig as dit met kaneel gegeur word – en dis boonop lekker.

EIERS

Versteekte juweel Luteïen, wat ook in spinasie en ander groen blaargroente voorkom, speel ’n belangrike rol om jou oë teen katarakte en ouderdomsverwante sigverlies te beskerm.

Hoekom jy dit moet eet Al bevat ander kosbronne meer luteïen per gram, kan jou liggaam die anti-oksidante in eiers drie keer makliker absorbeer. Dit is glo aan die vetinhoud van die eiergeel te danke.

Wenk Al bevat eiergeel baie cholesterol, het ’n ondersoek gewys al eet jy vir vyf weke elke dag ’n eier, sal dit geen negatiewe uitwerking op jou cholesterol hê nie.

VARS ORIGANUM

Versteekte juweel Dit bevat roosmarynsuur en het ’n sterker anti-oksidantwerking as vitamien E.

Hoekom jy dit moet eet Origanum het 30 keer meer anti-oksidante as ’n aartappel, 12 keer meer as ’n lemoen en vier keer meer as bloubessies. Navorsing wys trouens daar is net soveel anti-oksidante in ’n eetlepel vars origanum as in ’n middelslag-appel. En al bevat alle kruie sekere anti-oksidante, was origanum nommer een in ’n Chinese ondersoek waarin 39 kombuis- en medisinale kruie beoordeel is. Hy hoort dis beslis in jou kruietuin of op jou kombuisvensterbank!

Wenk Vars is altyd beter wanneer dit by kruie kom. Gebruik vars knoffel – navorsing wys die anti- oksidantwerking daarvan is 1,5 keer hoër as dié van gedroogde knoffelpoeier.