Navorsers aan die Thomas Jefferson-universiteit in Amerika het data van nege vorige studies saamgevoeg waarin gekyk is na 1 022 vroue wat vier keer per week tussen 35 en 90 minute tydens hul swangerskap oefeninge gedoen het, en 1 037 wat dit nie gedoen het nie.

Die vroue se gewig was oor die algemeen normaal en daar was geen komplikasies met die swangerskappe nie.

In die studie is bevind dat by vroue wat 10 weke lank of tot hulle gekraam het, geoefen het, daar dieselfde getal vroeë geboortes was, die geboortegewig was soortgelyk en hul babas is op ’n soortgelyke tydstip gebore as by die vroue wat nie oefeninge gedoen het nie.

Lees ook: Wenke vir oefening ná jou swangerskap

Vroue wat oefeninge gedoen het, het 73 persent van die tyd vaginaal geboorte geskenk en 17,9 persent het ’n keisersnee gehad, vergeleke met 67 persent van dié wat nie geoefen het nie en vaginaal die lewe geskenk het, en 22 persent het ’n keisersnee nodig gehad.

Voorts was daar ’n hoë voorkoms van voorgeboortelike diabetes en hoë bloeddruk by vroue wat nie geoefen het nie, vergeleke met dié wat wel geoefen het.

Dit dui daarop dat oefening gesondheidsvoordele inhou vir vroue.

Ten spyte van vorige studies wat aandui dat oefening normaalweg geen gesondheidsrisiko’s inhou vir vroue met hoërisiko-swangerskappe nie, skram swanger vroue steeds weg van enige soort oefening, volgens dr. Vincenso Berghella.

Lees ook: Draf verlig pyn tydens swangerskap

“Die gedagte is dat oefening norepinefrien in die liggaam vrystel. Dis ’n chemikalie wat sametrekkings van die baarmoeder kan stimuleer en dus kan lei tot vroeë geboortes,” het hy gesê.

“Maar talle studies, insluitend hierdie nuwe meta-analise, het sedertdien getoon dat oefening nie skadelik is vir die baba nie; trouens, dit kan voordele vir die ma en baba inhou.”

Vincenso voeg by die studie versterk die opvatting dat oefening geen “verhoogde risiko” vir vroeë geboorte inhou nie.

Die studie is in ’n Amerikaanse tydskrif vir verloskunde en ginekologie gepubliseer.

© Cover Media