Die Associated Press (AP) het ’n ondersoek van stapel gestuur wat data van 25 studies bestudeer het wat oor die afgelope dekade ingesamel is. Die studies het die gebruik van ’n tandeborsel alleen met die gekombineerde gebruik van ’n tandeborsel en vlos vergelyk.

Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat die bewyse vir die gebruik van tandevlos “swak”, “onbetroubaar” en van “baie lae gehalte” is en dat dit “van 25 studies middelmatige tot hoë moontlikheid vir bevooroordeling” bevat.

Die bevindings weerspreek die aanvaarde raad rakende mondhigiëne wat van tandartse, vlosvervaardigers en ander organisasies kom wat mense aanraai om vlos te gebruik.

Die AP vra nou of die Amerikaanse regering se riglyne oor die gebruik van tandevlos, soos in die Dietary Guidelines for Americans uiteengesit, op wetenskaplike bewyse gegrond is en of dit hersien moet word.

Volgens dr. Wayne Aldredge, president van die American Academy of Periodontology, is die wetenskaplike bewyse vir die gebruik van vlos swak. Hy het egter aan die AP gesê die voordele van tandevlos kan duideliker wees indien die studies op rokers en diabete, met die hoogste risiko vir tandvleissiektes, sou fokus.

Hy het voortgegaan om sy pasiënte aan te moedig om te vlos, maar op die korrekte manier: op en af aan die kante van die tande en nie met ’n saagbeweging nie.

’n Vooraanstaande Britse tandarts het bygevoeg dat daar net “swak bewyse” is dat vlos nuttig is. Prof. Damien Walmsley, wetenskaplike raadgewer van die British Dental Association, is onder die skeptici.

“Dit is belangrik om mense in te lig aangaande die basiese goed. Die gebruik van tandevlos vorm nie deel van die basiese goed nie,” het hy gesê.

’n Woordvoerder van Public Health England het intussen gesê die organisasie “sal hierdie bevindings oorweeg”. Die Nasionale Gesondheidsdiens raai mense aan om tandevlos op raad van hul tandarts te gebruik.

“Tandevlos help om tandvleissiektes te voorkom deur ontslae te raak van plaak en stukkies kos tussen jou tande,” sê die webtuiste.

© Cover Media