Kerspartytjies kom nader en ons het ’n paar wenke bymekaargemaak oor wat ’n mens moet doen om die gevreesde babbelas die volgende oggend te vermy en te behandel. Of immers draagliker te maak.

Selfs voor jy begin alkohol drink, moet jy seker maak jou maag is vol koolhidrate. Eet dus eers iets soos pasta of rys voor jy die glas optel. Die kos sal help om die liggaam se opname van alkohol te vertraag en keer dat dit na jou kop gaan.

Dis ook goed om water of sap tussen glase wyn of spiritualieë en ’n mengdrankie te drink ten einde gehidreer te bly. Vermy nie-alkoholiese bruisdrankies omdat gasdrankies net die opname van alkohol bespoedig.

As jy spiritualieë drink, moet jy liefs nie die goedkoopste produk koop om sente te spaar nie. Kenners het bevind die duurder opsies is meer gefiltreer en maak dus die babbelas minder erg.

Ontwatering is nie die enigste oorsaak vir daardie aaklige gevoel nie; jou binnegoed is ontsteek en jy ly aan oksideringstres omdat jou liggaam uit balans is en nie in staat om te ontgif nie. Voor jy uitgaan, neem ’n multivitamienaanvulling en drink vars vrugtesap om jou immuunstelsel op dreef te kry.

Jy gaan waarskynlik ’n liter water nader trek wanneer jy tuiskom, maar onthou te veel water sal jou slaap onderbreek, want jy sal die toilet meer gereeld moet besoek.

’n Behoorlike nag se slaap is noodsaaklik, want hoewel dit nie die babbelas verhoed nie, help dit jou om weer op dreef te kom. Dan is daar die staatmaker-pynstiller: anti-inflammatoriese keuses soos ibuprofen is die beste, want dit takel die uitwerking van alkohol.

Stadig oor die klippe en wees bewus daarvan dat jou maag moontlik na vetterige kos kan smag, maar dit kan in ’n ramp eindig as jy sensitief voel.

© Cover Media