Kom ons wees nou maar eerlik: Die enigste prettige ding van op ’n dieet wees, is die kierangdae. Dit is met groot genoeë dat ons jou die jongste bevindings oor diëte bring: Die dae dat jy oortree, doen werklik wondere vir jou middellyn.

Navorsers aan die Universiteit van Tilburg in Nederland het, nadat hulle mense op dieet met drie eksperimente geassesseer het, bevind die beplanning van kierangdae stel mense moontlik meer in staat om op hul goeie dae by hul gesonde eetplan te hou.

In die eerste eksperiment is 59 mans en vroue gevra om te maak asof hulle op ’n dieet is.

Die helfte moes hulle verbeel hul dieet moet sewe dae volgehou word, terwyl die res van die groep moes voorgee dat hulle een dag vry het.

Die deelnemers moes hulle daarna verbeel hulle is honger en stap in die supermarkgangetjie met die happies af, en dan moet hulle aan maniere dink om die versoeking te weerstaan.

Dié wat op die “kierangdag-dieet” was, het meer maniere gevind om nee te sê vir enige ongeoorloofde kossoorte.

Lees ook: Die porsiebeheerdieet – die dieet wat werk!

Intussen het 36 mans en vroue, wat vir 14 dae op dieet was, aan die tweede probeerslag deelgeneem.

Die groep is weer in twee verdeel: Die helfte het ’n streng dieet van 6 280 kJ per dag gevolg, terwyl die ander 5 440 kJ per dag geëet het, behalwe op Sondae, wanneer hulle hul kilojoules kon verhoog tot 11 300.

Resultate het getoon dié met die kierangdag het beter selfbeheer gehad as dié wat ’n gewone dieet gevolg het, en hulle was gelukkiger en meer gemotiveerd. Hulle het ook net soveel gewig verloor soos die ander groep.

Die laaste eksperiment het die kierangdagteorie na ander areas uitgebrei, soos na die spaar van geld, en het getoon ’n dag van oorboord gaan, kan jou op die lange duur help geld spaar.

“Die bevindings toon dit is belangrik om wanneer jy ’n doel nastreef, oomblikke te beplan wanneer dit “goed is om sleg te wees”, het die navorser Marcel Zeelenberg opgemerk.

“Dit is soms op die lange duur goed om tydelik op die korte duur sleg te wees.”

Lees ook: Dis hoe lank kenners meen jy moet verslank om die vetjies vir goed weg te hou

Mariza van Zyl, ’n dieetkundige van BetterEat in Kaapstad, is van mening dat kierangdae op sigself nie ’n slegte ding is nie, maar dat mense moet pasop om nie oorboord te gaan nie.

“As jy elke derde dag so ’n kierangdag neem en dubbel soveel eet as wat jy moet, sal jy waarskynlik nie gewig verloor nie,” sê sy.

Tog meen sy dit is belangrik dat dié wat besluit om op ’n dieet te gaan, dit so interessant moontlik probeer hou om te keer dat hulle te gereeld kierangdae neem omdat hulle verveeld is met hul dieet.

“Myns insiens is ’n lewensveranderende dieet een wat jou leer om nuwe smake, teksture en resepte uit te toets.”

Dit duur glo ook ’n paar dae voor ons brein besef die nuwe soorte kos wat ons nou eet, is eintlik vir ons lekker en laat ons versadig voel.

Mariza se raad is dat kierangdae in die haak is, solank jy jou dieet so interessant moontlik probeer hou sodat soveel kierangdae nie nodig is nie.

“Eet die maaltyd waaroor jy mal is, maar kontroleer steeds jou porsies. Eet gerus die skyfies, maar hou by 10; eet die nagereg, maar skep dit in ’n klein bakkie.”

Ander stories op Huisgenoot.com:

‘Hulle gil, skree en baklei in hul slaap!’: Kenners gee raad as jou geliefdes aan vreesaanvalle snags ly

Nutella, Nike, Huawei: handelsname wat jy waarskynlik al die tyd verkeerd uitspreek

Sadag-hulplyn: Dis hoe ’n vriendelike, empatiese stem aan die ander kant van ’n telefoonlyn iemand se lewe kan red

Kry só daardie salarisverhoging wat jy al lank voor wens

Kenners gee raad: Hanteer só kinders se stres en angs