Party mense hou hul tamatiesous in die koskas en hul eiers in die yskas, en ander doen net die teenoorgestelde. As jy dus die ware feite wil hoor oor waar jou kruideniersware hoort, neem kennis van ons nuttige gids.

Tamatiesous

Luister gerus na die raad van Heinz self. Volgens die maatskappy sorg die surigheid in tamatiesous dat dit veilig in die koskas gebêre kan word, maar hulle beveel aan dat dit in die yskas gebêre word omdat “stabiliteit” deur bergingstoestande geaffekteer kan word. As jy dus twyfel, hou jou tamatiesous liewer koel!

Eiers

Jou yskas sou beslis nie ’n nuttige rakkie vir eiers gehad het as hulle nie in die yskas gebêre moes word nie, nie waar nie? Wel, die Britse Eierinligtingsdiens (jip, daar bestaan so iets) stem saam en raai mense aan om eiers koel te hou om temperatuurwisselings te vermy. Die kundiges reken ook dit is die beste manier om salmonella in toom te hou.

Maar almal deel nie hierdie siening nie. Tim Hayward, aanbieder van die kosprogram op die BBC se Radio 4 en restaurantrubriekskrywer vir die Financial Times, redeneer: “ ’n Vars eier van vrylopende hoenders behoort teen kamertemperatuur minstens ’n week vars te bly.”

Ons sê: wie is ons nou om met die Britse Eierinligtingsdiens te stry?

Brood

Party mense het ’n spesiale broodblik, ander hou hul brood in die yskas en sommige rebelle bêre dit sommer dadelik in die vrieskas – maar wie is nou eintlik reg?

“Dit is heeltemal in orde om brood buite die yskas in ’n broodblik te bêre, maar dit word gou oud en as daar humiditeit in die weer is, kan dit muf,” het Aloysa Hourigan, voorste senior voedingkundige by NAQ Nutrition aan die Daily Mail Australia gesê.

“Brood sal droog word in die yskas. As jy dit nie gou gaan opeet nie, is dit beter om dit te vries en snye uit te haal soos jy dit nodig kry.”

Vrugte

Dit hang grootliks af of die vrugte ryp is of nie. As dit nog taamlik groen is, is dit beter om produkte soos bessies, tamaties en lemoene buite die yskas te hou. As die vrugte sag voel, lekker ruik en reg lyk om te eet, plaas dit in die yskas, want dit verleng hul raklewe.

Aartappels en uie

Hierdie twee moet nooit in die yskas gebêre word nie; sit hulle eerder in ’n spens of kelder as jy een het aangesien aartappels en uie ’n koel, droë omgewing verkies. As aartappels aan lig blootgestel word, word hulle groen en as hulle in die yskas met klammigheid in aanraking kom, vrot hulle.

© Cover Media